Ben Fourie

“Die wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.”  Johannes 10:29-30

Is jy ook soms bang? Bang vir dinge wat jou fisies kan skade doen, tot dit wat jou hart en gees en siel vertroebel. Ons word soms so deur die samelewing, vriende, familie of selfs medegelowiges geïndoktrineer om altyd ’n dapper gesig vir die wêreld te wys, dat laasgenoemde dalk ’n groter probleem word as die oorspronklike probleem van bang wees. Dit is geen skande om bang te wees nie, maar aan die ander kant behoort ons ook nie so bang te wees vir alles dat dit ’n skaduwee oor ons hele lewe gooi nie.

In ’n boek genaamd “Stories vir die lewe” is daar ’n storie van ’n seun van ’n sekere groep wat as bewys dat hy as man gereken kan word, ’n nag lank alleen in die woud moes deurbring. Hy was baie bang en elke geluidjie het hom laat bewe. Toe dit lig word, het hy tot sy verbasing gesien dat sy pa net ’n entjie van hom af sit. Ja, sy pa het die hele nag oor hom gewaak. Die seun se versugting was: “As ek net geweet het dat my pa by my was, sou ek glad nie bang gewees het nie”. Ons het nie so ’n verskoning vir al ons vrese nie. Ons weet immers volgens sy Woord dat ons Hemelse Vader elke dag oor ons wag hou.

In ons teksgedeelte praat Jesus van ons as sy skape en gebruik ’n kragtige beeld wanneer Hy ons verseker dat ons vir Hom so belangrik is dat: “niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie”. Die beeld is verleen aan die skaapwagter wat moet keer dat ’n ongedierte nie ’n skaap letterlik uit die skaapwagter se greep ruk en verslind nie. Jesus wil ons deur die beeld verseker dat God ons baie styf vashou. In Romeine 8:38 en 39 verwoord Paulus die gedagte onverbeterlik: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” As ek dit lees, wonder ek hoekom is ek ooit vir enigiets bang.

Gebed: Dankie, Here dat U my vrese ken en my baie styf vashou.  Amen