Vers n dag - 20 Oktober 2011
Staan vas in jou geloof
Neville Turley
Handelinge 7:55
Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.
Daar word allerweë na Stefanus verwys as die eerste Christen martelaar wat vir sy geloof gesterf het. Hy was een van die sewe volgelinge van Jesus wat aangestel is om die finansies van die gemeente in Jerusalem te hanteer en die weduwees en armes te versorg sodat die apostels hulle tyd meer aan gebed en die verkondiging van die Woord kon wy.
Die Bybel beskryf Stefanus as 'n man aan wie God genade en krag gegee het om wonders te doen. Hy was 'n goeie prediker en 'n kragtige redenaar, hy het die lede van die Joodse Raad woedend gemaak deur hulle daaraan te herinner dat hulle voorvaders teen God en hulle leiers gerebelleer het en die profete doodgemaak het. Stefanus se beskuldiging dat hulle dieselfde met Jesus gedoen het, het hulle van woede op hulle tande laat kners.
Stefanus se verklaring dat hy die geopende hemel sien en die verheerlikte Jesus aan die regterhand van God sien staan, was eens te veel vir hulle. Soos een man het hulle op hom afgestorm en hom gestenig, en selfs tóé het hy die Here gevra om hulle tog nie hierdie sonde toe te reken nie!
Christene word toenemend gehaat net omdat hulle Christene is. Volgens beskikbare statistieke word daar elke vyf minute êrens in die wêreld 'n Christen doodgemaak. (David R Barrett: Study of Global Christianity)
Dit is 'n skokkende syfer, maar word dit opgeweeg teen die aantal Christene in die wêreld, besef 'n mens dat die meerderheid van ons nie noodwendig geroep sal word om vir on geloof te sterf nie, maar wel tot die ontsagwekkende taak om ons geloof uit te leef.
Is jy gereed om hierdie uitdaging te aanvaar?
Gebed: Hemelse Vader, U het aan Stefanus die genade geskenk om U te vra om hulle wat hom gestenig het, te vergewe. Skenk aan ons genade sodat ons ook wanneer ons seerkry omdat ons ter wille van u Naam standpunt inneem, ander sal kan liefhê en vergewe. In die Naam van Jesus bid ons dit. Amen.