Xanthe Hancox

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 1 Petrus 1:3-4

Wat is hoop? Voor die Rugby Wêreldbekertoernooi verlede jaar het ek gehoop die Springbokke gaan wen. En as jy my man vra, sal hy jou heel moontlik vertel dat hy seker was hulle sou wen. Maar natuurlik, ten spyte van al ons grootpratery, was ons nie seker nie en moes deur 80 minute sit, desperaat vir die uitkoms wat ons wou hê.

Hoop, soos ons tipies daaraan dink, is 'n begeerte na iets wat in die toekoms moet gebeur, maar waaroor ons onseker is of dit wel sal gebeur.

Maar dit is nie hoe Petrus oor hoop dink nie. Dit is nie wensdenkery wanneer hy van 'n onverganklike, onbesmette en onverwelkte erfenis praat nie. Die koms van Christus is seker. Christelike hoop is die volle versekering dat die Here sy beloftes gestand sal doen.

Daar is iets selfs meer eienaardig aan Christelike hoop. Petrus noem dit "lewende hoop". Wat beteken dit? Die teenoorgestelde van lewende hoop is dooie hoop. Dit laat 'n mens dink aan Jakobus 2 waar hy na 'n geloof wat dood is verwys. "So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood." (Jakobus 2:26) Jakobus sê: "Jou dwaas, wil jy 'n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is?" (Jakobus 2:20) So, "lewende geloof" en analogies beskou "lewende hoop", is nie nutteloos nie maar vrugbaar en produktief. Lewende hoop het krag en kan lewens verander,

Hoop is nie net sommer 'n byvoeging tot die Christelike lewe nie. Dit is een van die essensiële dinge. Dit is 'n lewensnoodsaaklike komponent van geloof wat verlos, want 'n deel van dit wat ons glo, hou verband met die toekoms. Dit is onmoontlik om 'n Christen te wees, en aan te hou glo in 'n somber toekoms.

Hierdie maand herdenk die Bybelgenootskap van Suid-Afrika 200 jaar van Bybelwerk om deur die Woord van God hoop te bring. Sluit by my aan om saam met my regdeur Augustus meer te leer oor die lewende hoop in Christus.

Gebed: Dankie Here dat U aan ons 'n nuwe lewe en lewende hoop gee. Of ons nou al jare lank Christene is, of so pas ons nuwe lewe in U begin het, help ons om elke dag nader aan U te groei. Amen