Louise Gevers

Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel. Dié wat op nuttelose afgode vertrou, verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon. Terwyl ek 'n loflied sing, wil ek aan U 'n offer bring; wat ek beloof het, sal ek doen. Hulp kom net van die Here af.”  Jona 2:7-9

Die 'kitskorrigeerder' op 'n selfoon kan soms die stuur van 'n eenvoudige teksboodskap 'n uiters frustrerende taak maak. Die kitskorrigeerder is veronderstel om "'n sagteware-eienskap te wees wat verkeerde spelling korrigeer terwyl jy tik". Dit klink baie behulpsaam, maar die probleem ontstaan wanneer dit, terwyl ek tik, sommer vooruit "kies" watter woord ek moet gebruik, soms met belaglike resultate. Dit mag soms snaaks wees, maar meestal is dit net 'n vermors van tyd.

Ek wonder of God nie soms so oor ons voel nie. Hy sê ons om iets te doen, maar ons is altyd een tree vooruit, oortuig dat ons beter weet wat Hy verlang. Dan kry ons dit verkeerd, of ons luister in elk geval nie en dan is dit vir Hom nodig om ons te korrigeer. Dit is presies wat met Jona gebeur het en hoekom die gebed in vandag se teksvers in die maag van 'n groot vis gebid is.

Soos baie van ons, is Jona hardkoppig, sy denke is deurmekaar en hy laat toe dat sy eiebelang voorkeur geniet bo sy gehoorsaamheid aan God. Tot die kern van die saak is die feit dat God medelye wil bewys aan die groot heidense stad, Nineve,  'n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere” (Jona 4:11). God wou, deur Jona te gebruik, vir hulle die kans gee om hulle sonde te bely en so van vernietiging te ontsnap.

Jona, in "kitskorrigeerder vorm" dink hy weet beter as God en hy hardloop weg van Hom, maar onwetend stel hy hom op om gekorrigeer te word. God verander nie sy besluit om die verlorenes te red net omdat sy dienskneg hardkoppig is nie. Toe die storm oor die see opkom (Jona 1:4) het Jona geweet dat sy ongehoorsaamheid die oorsaak was (Jona 1:12), maar sy gesindheid het eers verander toe hy in die vis se maag die dood in die gesig moes staar, en toe hy "wou vergaan".

Soms neem dit 'n krisis om ons tot ons sinne te laat kom. Ons besef dat ons verkeerde houding ons van God vervreem het en dat ons moet verander. Dit is vir God belangrik om die verlore mense in die wêreld te red, en ons moet verstaan dat, om soos Hy ons beveel, na hulle te kan uitreik moet ons vry wees van ons 'kitskorrigeerder'. "Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee." (Esegiël 36:26)

Soos Jona, kan ons God ook van uit die dieptes aanroep en weet dat: "Dit is nie my vermoë nie, maar my reaksie op die vermoë van God, wat tel." (Corrie Ten Boom – vry vertaal)

Gebed: Vader, dankie dat U weet hoe swak ons is, en nogtans het U ons steeds lief en help U ons om ons verhouding met U te verdiep. Verander asseblief my hart en laat my toe om U met nuwe begrip te dien. Amen