Louise Gevers

Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”  Daniël 3:16-18

Die maak van keuses is deel van die lewe, maar in die huidige koronaviruskrisis is dit uiters belangrik dat mense die regte keuses maak oor wat voorheen relatief eenvoudige situasies was, aangesien hulle keuses nou verreikende gevolge kan hê. Vir die Israeliete het die maak van keuses in krisistye beteken dat hulle hulle in gebed en deur die gebooie tot God gewend het wat hulle krag gegee het om besluite te neem. Dit geld vandag steeds vir gelowiges.

In Babel is Daniël en sy vriende voortdurend uitgedaag om in hulle "nuwe normaal" in 'n heidenland, die regte besluite te neem. Hulle was voortdurend onder druk om, onder die heerskappy van die magtige Nebukadnesar wat min omgegee het vir individuele vryheid van denke en geloof, voor afgode te buig. Toe Nebukadnesar dus 'n goue beeld van dertig meter hoog laat maak en almal beveel om voor dit te buig en dit te aanbid, is hulle keuse om, ten spyte van die wete dat hulle in 'n brandende oond gegooi kan word, eerder God as 'n mens te aanbid, nie goed ontvang nie. Sal ons, soos hulle, sonder om te aarsel reageer met dieselfde geloof en vertroue in God waarvan ons teksvers ons vandag vertel?

As vroom Israeliete het Sadrag, Mesag en Abednego geleef volgens die gebooie wat begin met: "Jy mag naas My geen ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, … (Eksodus 20:3-5) Alhoewel hulle hom gerespekteer het, het hulle geensins geglo dat hulle Nebukadnesar moes gehoorsaam nie. Hulle het onvoorwaardelik geglo dat die Here hulle kon red sou Hy wou, en daarom het hule gekies om Hom te aanbid en was hulle "bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid." (Daniël 3:28)

Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat God hulle geloof beloon het nie! Nie net het Nebukadnesar hulle lewendig in die brandende oond aangetref nie, maar hy het vier persone vrylik in die vuur sien rondbeweeg, "ongedeerd … en die vierde lyk soos 'n hemelwese!” (Daniël 3:25) Die skrywers van Bybelkommentare huldig verskillende opinies, maar wie ons ook al glo die vierde persoon in die brandende oond was, hy was baie duidelik die een wat God gekies het om sy belofte te hou dat Hy by sy verloste kinders sal wees en toe Hy gesê het: "as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie." (Jesaja 43:2)

Al die mense het gesien dat hulle ongedeerd uit die vuur gekom het en hulle so deur God beskerm is dat hulle nie eers na rook geruik het nie. Nebukadnesar was oortuig van die gesag van die God wat hulle aanbid, en hy het ook die drie manne bevorder wat vir Daniël gebid en nou van hulle eie beproewing verlos is.

"Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm. Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel. 'n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly." (Psalm 91:14-16)

Gebed: Liefdevolle Hemelse Vader, help my asseblief om U onvoorwaardelik te vertrou, veral in hierdie.moeilike tyd. Help my om deur elke keuse en besluit wat ek daagliks neem, U te vereer. Amen