Louise Gevers

Kom luister, alle dienaars van God, ek wil vertel wat Hy vir my gedoen het: Skaars het ek na Hom geroep, of daar was reeds 'n loflied op my lippe. As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie. Maar God hét geluister, Hy hét my gebed verhoor! Die lof kom God toe wat my gebed nie afgewys en sy trou nie van my weerhou het nie. Psalm 66:16-20

Selfvoldaan is nie 'n woord wat God beskryf nie, want dit is nie 'n karaktertrek van sy goddelike natuur nie. Hy toon 'n kardinale belangstelling in sy skepping en sy menswording deur Jesus Christus is 'n bewys daarvan. In sy verbond met sy kinders is sy liefde aktief en getrou (2 Kronieke 6:14); Hy slaap nooit (Psalm 121:3); Hy is altyd besig (Psalm 121:7-8) en Hy is altyd op 'n regverdige manier betrokke by sy skepping. In teenstelling hiermee, ken ons aardse skepsels, wat dikwels die breë weg verkies, die slaggate wat selfvoldaanheid veroorsaak baie goed.

In sy boek, "The Pilgrim's Progress" ("Die Christen se reis na die ewigheid") beskryf John Bunyan Christen se ontmoeting met Simple, Sloth en Presumption, vas aan die slaap naby die kruis. Christen nooi hulle om hom na die Hemelstad te vergesel, maar tevrede met waar hulle is, weier hulle. Simple sien nie die nodigheid om die Bybel te bestudeer, verstaan of op sy lewe toe te pas nie; Sloth sien geen rede om iets moeilik of wat iets gaan kos, te doen nie en Presumption wil bly waar hy die kruis kan sien want hy aanvaar dat sou iets verkeerd gaan, die feit dat hy naby die kruis is, alles sal regmaak.

Hierdie selfvoldane karakters is onwillig om hulle gemaksones te verlaat en wys baie min entoesiasme om die Hemelstad te bereik. Hulle is bekend met dit wat geloof ons leer, maar hulle kies om nie betekenisvol daarby betrokke te raak nie en hulle ignoreer Jakobus se opdrag dat 'n mens moet: " … hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vry maak, en …nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, … (Jakobus 1:25).

In vandag se vers vertel die psalmdigter 'n heel ander storie as die van die selfvoldane karakters. Sy woorde getuig van die aktiewe, vreugdevolle verhouding wat hy met die Here geniet. Hy roep al die dienaars van God om te kom luister na hoe God sy aanbidding en sy geroep om hulp, beantwoord het. Hy laat nie na om die Here te prys nie en ook nie om sy sondes te bely nie, en God het geluister en geantwoord. Hierdie paar teksverse is 'n bewys van 'n florerende verhouding waar beide partye van hulleself gee, vrae beantwoord word en van 'n betroubare liefde tussen God en die digter. Die verhouding is warm, lewendig, nie dood en selfbehep nie.

God is vrygewig en Hy verwag van ons om dit met hart en siel te aanvaar. Hy is oral en daarom is daar nooit 'n goeie tyd om ons verhouding met Hom te onderbreek nie. Hy is altyd teenwoordig en kragtig aan die werk in ons lewens, en daarom sal ons net armer wees as ons ons nie volkome aan Hom oorgee nie.

Gebed: Hemelse Vader, alles oor U is dinamies. Red ons asseblief van selfvoldaanheid sodat ons U met hart en siel en met blydskap sal liefhê.  Amen