Louise Gevers

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie,  Jesaja 43:1-2

Min het ek geweet dat die kontemplatiewe diens wat ek die Sondag voor die begin van die grendeltyd bygewoon het en wat so 'n mooi, vars en intieme tyd met God was, ook 'n vrugbare voorbereiding was vir dit wat sou kom. Vir die volgende maande vind die erediens tuis plaas en luister ons na ons predikant se preek op video, maar dit was eintlik eers na 27 Maart, toe die grendeltyd 'n werklikheid geword het, dat ek begin het om die diepgaande werk te waardeer wat God daardie aand gedoen het.

Die diens wat ek bygewoon het was nie net 'n oordenking van vertroostende verse uit Jesaja nie, maar die meditasie het ons daaraan herinner dat ons geroepe is en aan God behoort. Hy sal by ons wees deur elke beproewing net soos Hy by sy volk in die woestyn was. Sedert daardie diens het die Skrifgedeeltes dikwels by my opgekom en my vertroos.

Josua se woorde bemoedig ons: "Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” (Josua 1:9) Hoe dikwels lees ons die voorafgaande woorde? "Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy voorspoedig wees." (Josua 1:8) Hulle spreek boekdele.

Deur sy Woord bewys God sy liefde, en rus sy kinders toe en berei ons voor met 'n geestelike wapenrusting sodat ons alle aanvalle of situasies kan hanteer waarin ons ons mag bevind en sodat ons sy wil effektief kan doen. In ons eie krag misluk ons keer op keer, maar ons word daaraan herinner om te steun op Jesus wat sê: "sonder My kan julle niks doen nie." (Johannes 15:5) en, "Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:20) Sy Gees is met ons elke tree van die pad en sal ons deurdra.

'n Soldaat moet ten volle gewapen en waaksaam wees om sy doel te kan bereik – of hy nou in die basis is of besig met aktiewe diens, hy moet bevele kan hoor en gereed wees. Ons moet besef dat die vyand ons swakhede ken en dat hy ons gedagtes aanval ten einde ons te verslaan, maar Jesus se voorbeeld is 'n bewys dat ons teen sy skelm, sluwe maniere staande kan bly, "omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is." (1 Johannes 4:4)

Toe Jesus in die woestyn deur die duiwel versoek is, was die Skrif sy verdediging. Kan ons met enigiets anders wen? Christus sal die oorwinning aan ons gee.

Gebed: Liefdevolle Vader, U het alles vir ons gegee wat ons nodig het om in Jesus Christus ons Verlosser 'n vol lewe as oorwinnaars te lei. Wys ons asseblief hoe om ons tyd reg te gebruik sodat ons in alle omstandighede ten volle gewapen en toegerus sal wees en altyd sterk teen elke aanval van die bose sal staan. Amen