Louise Gevers

Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe. Wie ken die krag van u toorn beter as u dienaars? Wie ken u gramskap beter? Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom. Psalm 90:10-12

Tyd het begin toe God die wêreld gemaak het en orde uit chaos geskep het met die son, maan en sterre wat dag en nag aandui en seisoene wat op aarde gevestig is. (Genesis 1:14-19) Salomo onderstreep die belangrikheid van tyd in God se ontwerp wanneer hy sê: ´God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd," en hy beklemtoon verder ook die kompleksiteit öm die doel van tyd te verstaan: "maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd." (Prediker 3:11)

Samewerking met God in die seisoene wat Hy in ons lewens bring, help ons om ten volle daarby te baat. 'n Nuwe seisoen bied die geleentheid vir 'n nuwe begin, ook in dié tyd waarin ons ons tans bevind. Die "nuwe normaal" beklemtoon die belangrikheid van die produktiewe gebruik van tyd. Tyd wat goed gebruik word, help ons om ons doel te bereik en hou ons, ondanks probleme, op die regte spoor. Diegene vir wie dit nie moontlik is om in hierdie grendeltyd op 'n betekenisvolle manier hulle daaglikse roetine te volg nie, ontdek soms dat die dae in mekaar vloei.

'n Jong ma skryf die volgende op sosiale media: "Ek kan nie glo dat die jaar halfpad verby is nie. Covid het werklik die wêreld op sy kop gedraai en die toekoms lyk so onseker … sonder 'n duidelike prentjie van wat om te verwag, is daar geen manier om enigiets te beplan nie …"

Sy verwys na praktiese beplanning in die tyd wat ons beleef, maar in vandag se teks is dit duidelik dat Moses, in die woestyn, ook nagedink het oor die belangrikheid van tyd wat vinnig verbygaan en die uitwerking daarvan. Selfs daar in die woestyn, eeue gelede, was sy ondervinding soortgelyk aan die van die jong ma: tyd vlieg ongesiens verby. Moses het hierdie probleem aan sy Skepper toevertrou.

Ter opsomming van God se raamwerk van tyd en die doel daarvan vir die mensdom, besef Moses hoe beperk die mens is om dit ten volle te benut. Wysheid om betekenisvol te kan lewe in die tyd wat ons op aarde is, kom deur God te ken en respek vir sy krag oor lewe en dood te hê. Moses het die Here verskeie kere ontmoet, maar tog bely hy nederig sy behoefte aan leiding.

Wat ons in elke nuwe seisoen in ons lewe met ons tyd doen, maak saak. Ons kan hierdie geskenk bekom deur die Here om sy wysheid en leiding te vra.

Is ons in tyd met Hom?

Gebed: Ewige Vader,dankie vir die tyd wat U aan ons gee om betekenisvol hier op aarde te gebruik om ons vir die ewigheid voor te berei. In hierdie seisoen van die "nuwe normaal" gee U aan ons die geleentheid om ons weë te verander en ons lewe so goed moontlik te gebruik. Dit is U geskenk aan ons. Skenk aan ons wysheid en dat ons U sal liefhê en eer, en dat ons elke nuwe dag wat U aan ons gee, sal waardeer. Amen