Ben Fourie

“Moses het ’n altaar gebou en dit genoem: ‘Die Here gee my die oorwinning.’ “ Eksodus 17:15

Jahwe Nissi wat hier vertaal word met “Die Here gee my die oorwinning”, beteken letterlik: “Die Here is my banier” wat ook met oorlogvaandel vertaal kan word en is waarskynlik ’n woordspeling op die kierie wat God aan Moses gegee het. Solank as wat hy, volgens die verhaal, die kierie in die lug gehou het as teken van God se teenwoordigheid, was die Israeliete aan die wenkant, maar sodra hy dit laat sak, het die geveg in die Amalekiete se guns geswaai. Met Hur en Aäron wat, toe Moses moeg geword het, sy arms in die lug gehou het, het die kierie sigbaar gebly en kon Israel die vyand verslaan.

Die banier of vaandel was deur die eeue baie belangrik vir ’n leër of regiment. Dit het gewys wie hulle is en is met hulle lewens verdedig. Solank as wat hulle die banier nog in besit gehad het, was dit ’n bewys dat hulle nie oorwin is nie. Wanneer ’n leër egter die stryd verloor het, was die banier die heel eerste ding wat deur die oorwinnaar gegryp is om te wys dat hy die geveg gewen het.

Na hulle oorwinning bou Moses net daar op die berg ’n altaar en noem dit: “God is my banier”. Hiermee gee hy die eer vir die oorwinning aan wie dit werklik toekom. Moses en sy kierie het nie die oorwinning bepaal nie, maar was net die teken van die teenwoordigheid van die Een wat oorwinnings moontlik maak. Hierdie naam vir die altaar was baie noodsaaklik sodat ook die volk kon verstaan dat daar geen spesiale krag in die kierie was nie, maar dat dit slegs 'n simbool was dat God wat die oorwinning gee, teenwoordig was.

Ons dra almal dikwels ons eie baniere, skryf “oorwinnings” aan ons eie vermoëns toe, bou ons eie altare en sê; kyk wat het ek reggekry, terwyl dit Hy en Hy alleen is wat ons help om in die lewe te oorwin.

Gebed: Ons Hemelse Vader, vergeef my as ek ook so dikwels die eer aan myself toeken. Dankie, dat U vir my vermoëns skenk waarmee ek sukses kan behaal, maar hou my asseblief nederig. Amen