Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 20: God SIEN ons - 28 Februarie 2020

Deur Benescke Janse van Rensburg

Wat is jou absolute hartsgebeerte? ’n Huweliksmaat? ’n Baba? Droom jy om jou eie huis, motor of besigheid te besit? God doen steeds wonderwerke het Elzanne Joubert beleef.


Elzanne: "Van jongs af was my droom om ’n mamma te wees – spesifiek van ’n seuntjie en dogtertjie. Vir vyf jaar lank het ek egter nie swanger geword nie. Ek en my man, Willem het alles probeer - tuisplanne, kunsmatige inseminasie en in vitro. Niks het gewerk nie. Om met só 'n hunkering na ’n kind in jou binneste rond te stap, maak seer. Elke keer wanneer jy hoor van nog 'n vriendin se swangerskap, word jy opnuut met jou eie kinderloosheid gekonfronteer.

Met die laaste vitro-behandeling, het ek ’n afwagting in my hart gehad. Die aand voor ons doktersbesoek het ek Jesaja 54:1 gelees: “Jubel, onvrugbare vrou, jy wat geen kinders in die wêreld gebring het nie, jubel en juig, jy wat geen geboortepyne geken het nie, want jy, verstote vrou, gaan nou meer kinders hê as een wat getroud is, sê die Here.” Ek was oortuig dat ek sou swanger wees. Ek was nie. Dit is moeilik om die teleurstelling te beskryf. Ek was kwaad en desperaat. Waarom wou God nie hê dat ek swanger moet wees nie?

’n Skoolvriendin het my gebel en gesê dat sy ervaar dat God vir ons ’n kind wou gee, maar dat ons volkome op Hom moet vertrou. Ek was nog nie gereed om dit te hoor nie. ’n Maand later, in Januarie 2011, het ’n vrou my gebel wie ek nie gereeld sien nie met die nuus dat sy ervaar dat sy vir ons Romeine 12:1 moet gee: “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.” Sy het my herinner dat my liggaam ’n tempel van God is. Ook dat 2011 vir ons spesiale seëninge inhou.

Eers met die derde bevestiging (nogal uit ’n Vers-’n-Dag stukkie), het ek en my man besluit om mediese ingryping te stop en net op God te vertrou vir ’n kind. Hiermee sê ek nie mediese hulp verkeerd is nie. In ons geval het ek dalk te veel op dokters en te min op God vertrou. Hy wou hê dat ons Hom moes vertrou sodat sy Naam verheerlik kon word! Ons gebede het verander van smeking na waar ons God, in geloof, begin dank het dat ons teen Desember daardie jaar ons babatjie sou vashou.

Twee maande later het ek uitgevind dat ek swanger was! My seuntjie is November daardie jaar gebore, ’n maand voor Kersfees. Die seëning het nie daar gestop nie. Ons het 22 maande later uitgevind dat ons swanger is met ons dogtertjie. 

As ek vandag na my seuntjie en dogtertjie kyk weet ek dat God bestaan. Net Hy het geweet van die drome wat ek in my hart gehad het – en Hy het dit totaal oortref. Alle eer kom Hom toe.”

Elzanne is reg. God SIEN ons wanneer ons bid. In Psalm 33:13 lees ons: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense.” Ook in 2 Kronieke 16:9 lees ons: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”

Mag ons vashou aan God in die wagtyd, wetende dat Sy tydsberekening steeds perfek is. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek my lewe aan U kan oorgee sonder vrees en bekommernis oor die toekoms. Ek bring (noem die area) na U toe en ek vra dat U my sal kom verras op U tyd en manier. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto van Elzanne en haar gesin by:
    • Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/ of
    • Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en
  • Aangesien dit die einde van die maand is, is dit die einde van die reeks hier. Gee gerus terugvoer by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Vir meer, loer gerus van Maandag af op www.benescke.co.za

Nota van die skrywer:

Baie dankie aan elke leser wat deelgeneem het aan die maand se reeks. Dit was regtig wonderlik om te sien met watter karaktereienskappe elke leser vorendag gekom het. Mag ons voortgaan om God se aangesig te soek sodat Hy meer van Homself aan ons kan openbaar! Tot ’n volgende keer. Groete, Benescke

Previous article: God as die eerste tuinier - 2 Maart 2020 Prev Next article: Dag 19: God is ons ROTS en REDDER - 27 Februarie 2020 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.