Neville Turley

Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde."  Matteus 28:18

Lank voor die geboorte van Christus het daar 'n godvresende man, Daniël, geleef. Hy was nog 'n jongman toe koning Nebukadneser van Babel teen Juda opgetrek en dit beleër het. Daniël, saam met 'n aantal Joodse jongmans uit die adelstand is uitgesoek om opgelei te word om in diens van die koning te staan. (Daniël 1:3-6)

Daniël, 'n man met sterk beginsels het nie aan die baie versoekings van die koninklike hof toegegee nie. Hy het vir homself, selfs wat kos en wyn aanbetref, uiters hoë standaarde gestel. (Daniël 1:8)

God het Daniël begunstig en hom selfs die vermoë gegee om gesigte en drome te verstaan en uit te lê. (Daniël 1:17)  Hierdie vermoë het die koning van Babel baie beïndruk en hy het groot opgang in diens van die koning gemaak.

Een nag in 'n droom het God die koms van die beloofde Christus aan Daniël geopenbaar. “My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos 'n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. “Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie. (Daniël 7:13-14)

Stel jou voor die hoop wat Daniël uit hierdie visioen kon put. Sy mense was op daardie stadium 'n onderdrukte nasie, wat baie onder die oorheersing van Babel gely het.

Jesus self het hierdie visioen van Daniël bekragtig toe Hy gesê het: "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde."  (Matteus 28:18)

Ons leef miskien nie onder dieselfde onderdukking as die Jode van Daniël se tyd nie. Maar elkeen van ons ondervind dit soms moeilik om ons kruis te dra. Die omstandighede wat daartoe aanleiding gee, is miskien deur ons eie toedoen of as gevolg van sake buite ons beheer. Miskien is jy siek, beleef 'n gesinskrisis, ondervind finansiële probleme of onsekerheid by jou werk. Die God van hoop gee aan elkeen van ons die belofte wat in Christus opgesluit is.

Hy beskik oor die mag om al jou probleme op te los en om aan jou vrede en blydskap te skenk. Daar is geen beter tyd as juis gedurende hierdie Kerstyd om jou aan Hom oor te gee nie.

Gebed: Almagtige Vader, help ons om veral gedurende die feestyd te onthou dat U alle mag in hemel en op aarde aan ons Here Jesus Christus gegee het. Aan U al die lof en eer. Amen