Vers n dag - 20 Junie 2011
Slaap Rustig
Carina Francke
Skrifgedeelte: (NAV)
Psalm 4:9
Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.
Psalm 3:6
As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.
’n Afrikaanse skrywer het oor slaap geskryf: “O, wat is die slaap? ’n Wondersoete ding!â€
Ongelukkig ontwyk hierdie wonderlike noodsaaklikheid deesdae al hoe meer mense. Dinge soos werksdruk, bekommernis, vrees en spanning het die nagsluiper geword wat ons slaap voor ons oop oë wegsteel.
Toe Dawid Psalm 3 skryf, was hy op vlug vir sy opstandige seun Absalom wat met slinksheid die volk se hart gewen en homself tot koning laat verklaar het.   Dawid en sy dienaars vlug, want Absalom soek hulle lewens. (2 Sam 15)
Dit is in hierdie omstandighede dat Dawid sy vrees en bekommernis opsy skuif en kies om die Here se beskerming oor sy lewe te verklaar: “Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.â€
Let op sy plan van aksie. Hy neem ’n bewustelike besluit om sonder kommer bed toe te gaan en dadelik aan die slaap te raak. Watter mens kan dit doen? Een wat besef dat niks wat hy doen, hom veiliger kan laat slaap as wanneer die Here oor hom waghou nie; een wat sy vreugde in die Here vind en nie in tasbare dinge nie: “U het my reeds groter vreugde laat belewe as wat daar is by mense wat koring en wyn in oorvloed het.†(Ps 4:8)
Sulke optrede spreek van geloof en onwankelbare vertroue in die Een in wie se hande hy sy lewe plaas. Hy weet dat as hy roep, “antwoord die Here my van sy heilige berg af.†(Ps 3:5)
Dit laat ’n mens saam met Dawid manmoedig verklaar dat jy nie bang is vir tienduisende mense wat op jou toesak nie. Jy is seker daarvan dat jy na ’n goeie nagrus weer sal opstaan, want “die Here sorg vir my.â€
Jy kan weer die wondersoete slaap ervaar as jy besluit om die Een wat beskerm en sorg, toe te laat om jou kommer en vrees op Hom te neem.
Gebed: Vader, baie dankie dat rus deur U bepaal is. En omdat dit van U is, kan ek gaan lê en doodeenvoudig rustig aan die slaap raak. Amen.