Vers n dag - 3 Mei 2011
Krag-woorde
Dirk Taljaard
Skriflesing
1 Tessalonisense 1:5
…want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dÃt om julle ontwil.
Party mense het nou maar net ‘n gawe met woorde. Hulle kan die mees ingewikkelde ding só verduidelik dat self ‘n kind dit kan snap. Ander mense, weer, kan die eenvoudigste ding só tussen woorde verdoesel, dat niemand kop of stert kan uitmaak nie. Ons ken almal mense wat in elk van dié kategorieë val.
Ek ken heelwat mense wat sê dat die Bybel vir hulle moeilik verstaanbaar is. Veral sekere dele klink rêrig soos Grieks. En baie boeke wat geskryf is om dit uit te lê en te verklaar, maak dit nie juis duideliker nie.
Ek ken ook baie predikers wat woord-kunstenaars is. Wat die evangelie só eenvoudig en prakties kan uitlê, dat dit soos musiek op die oor klink. Wat dit aanbied asof dit spesiaal vir jóú geskryf is. Want dis meer as woorde – daaragter lê ‘n oortuiging dat alles wat hulle sê die waarheid is. 'n Deurleefde waarheid. Een wat deur hulle eie harte gegaan het.
Maar dié woorde is meer as dit. Soos Paulus sê: dis met oortuigings-krag wat nie uit 'n mens kom nie. Want mense oortuig ander nie van die waarheid van die Woord nie. Net die Heilige Gees kan dit doen. Net die Gees werk só kragdadig dat harde harte vermurwe. Dat dowe ore oopgaan en blinde oë kan sien. Dat lam bene begin beweeg en slap arms iets kan doen.
So wil die evangelie vandag ook werk om ons te oortuig en te laat groei. Meer nog: om met oortuiging te praat oor dit wat in ons harte leef.
Gebed:
Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser. (Psalm 19:15)