Oorwin die kwaad om 'n verskil te maak - 12 Oktober 2017
Louise Gevers
As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. 1 Petrus 1:14
In die wêreldwye geveg teen die kwaad, moet ons ons vyand en ons wapens ken. Sal 'n soldaat oorlog toe gaan sonder 'n geweer? Sal 'n volgeling van Jesus die geestelike gevegte sonder 'n Bybel veg? Beide moet instruksies en opleiding ontvang ten einde sukses te behaal.
Onderwys word hoog geag en begeer in ons samelewing want dit voorsien 'n nuwe begrip van die lewe en bring voordele op verskillende vlakke. Ten spyte van wat die Engelse spreekwoord "ignorance is bliss" sê, onkunde is nie altyd goed nie. Om onbewus van iets te wees, kan tot jou nadeel wees en jy kry dikwels iets nie omdat jy nie van beter weet nie.
Iets soortgelyks gebeur wanneer ons kinders van God word. Ons aanvaar die Evangelie en word weer gebore in 'n nuwe lewe en ontvang 'n nuwe begrip van krag wanneer ons ons harte vir Jesus Christus gee. Hy verander ons geestelike donkerte wanneer Hy ons met sy Gees vervul en Hy gee aan ons krag om die bose begeertes van ons ou self af te lê. Soos ons deur die lees van die Bybel groei, verwyder Hy ons onkunde en ons draai doelbewus weg van die wetteloosheid en begeertes wat vroeër ons lewens regeer het en wat ons uit eie wil gedoen het.
Petrus ken die druk waaronder Christene in die aangesig van vervolging verkeer en hy weet dat almal 'n swakheid het wat hulle aandag van God aftrek. Hy moedig ons aan om vas te hou aan die Here se waardes sodat ons nie terugval op ons ou weë nie. Netsoos iemand wat 'n dieet volg weer al die gewig gaan aansit indien hy in sy ou eetgewoontes terugval, so is die Christen in gevaar om sy vastrapplek en fokus op Jesus te verloor as hy in korrupsie verval, of dinge doen wat nie tot eer van God is nie.
Ons erken nie altyd die dinge in ons wat ons teruglok na die verkeerde en wat ons skade kan aandoen nie. Soos ons 'n doelbewuste besluit geneem het om Jesus te volg, moet ons ook 'n doelbewuste besluit neem om weg te draai van ons ou lewe.
Ons moet proaktief wees. Paulus se raad aan sy lesers is: "Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel." (Efesiërs 6:11) Deur dit te doen volg ons Jesus se volmaakte voorbeeld.Johannes sê: "Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is." (1 Johannes 4:4) Later sê hy: "Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom." (1 Johannes 5:18)
Watter wonderlike bemoediging vir ons!
Gebed: Here Jesus, help my om u volmaakte voorbeeld na te volg. Gee dat ek sal volhard in gebed en die wysheid van die Bybel in my lewe sal ken sodat ek my begeertes van vroeër sal aflê en in oorwinning tot u eer sal leef. Amen