Op julle merke, gereed, maak 'n verskil! - 10 Oktober 2017
Louise Gevers
Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. 1 Petrus 1:13
Was jy al ooit in 'n situasie waar jy graag 'n verskil deur 'n positiewe bydrae wou maak, maar uiteindelik was jy teleurgesteld in jou bydrae en in jouself? Dit het al 'n paar keer met my gebeur en ek wonder of dit net met my gebeur?
Kyk ek terug na een van hierdie kere wat my teleurgestel het, besef ek dat alhoewel ek daaroor gebid het en dit in geloof aangepak het, ek miskien nie my rol in die situasie goed deurdink het nie. Soms, êrens tussen gebed en doen, word ons aandag deur ander dinge afgelei en verloor ons soms ons fokus en dink nie nugter oor sake nie.
Onlangs, terwyl ek na die rugbywedstryd tussen ons nasionale span en die heersende wêreldkampioene gekyk het, het ek besef dat daar 'n behoefte was aan mense wat verstandelik wakker is en nugter kan dink. Verwarring en 'n gebrek aan fokus het meegebring dat ons span verskeie belangrike geleenthede verloor het om 'n verskil in die wedstryd te kan maak.
Die feit is dat ons een honderd persent moet gee indien ons 'n verskil wil maak en dit begin in ons denke. Dit is dus nie 'n verrassing wanneer Petrus vir Christene sê: "Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word …" Hy weet dat alhoewel God sy kinders toegerus het om sukses te behaal in die uitdagings van hierdie wêreld, praktiese instruksies tog nodig is, "want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind." (1 Petrus 5:8)
Ons moet die Here vra om ons te help om verstandelik wakker te wees. Dit sal ons ook help om nugter te kan dink. Ons moet ons swakhede voor ons hemelse Vader bely en vasstaan teen die aanvalle van die duiwel. Om verstandelik wakker te wees, nugter te dink en ons hoop te vestig op dit wat ons deel sal word by die wederkoms van Christus, help ons om die uitkoms te verfyn.
Jesus het vir ons 'n verskil in hierdie lewe gemaak. Hy het die kettings wat ons gevange hou, verbreek; Hy het ons van sonde bevry en ons uit die donkerte na die wonderlike lig gelei. Hy gee aan ons, sy volgelinge, die opdrag om dieselfde te doen. Jesus wil hê dat ons die sout en die lig vir die wêreld moet wees (Matteus 5:13-14) en Hy gee aan ons die opdrag: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het." (Matteus 28:19)
Sal jy dit doen?
Gebed: Vader, help my om verstandelik wakker te wees en nie my fokus op u genade te verloor nie. Help my om doelgerig en gehoorsaam te leef en altyd gereed te wees vir elke geleentheid wat U my gee om die evangelie te deel en 'n verskil in die lewe van iemand anders te maak. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen