Beproewings is bedekte seëninge - 6 Oktober 2017
Louise Gevers
Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. (1 Petrus 1: 6-7)
Beproewings tref ons op verskillende maniere, maar besef jy vir die Christen is dit 'n positiewe ervaring?
Ons is hartseer wanneer 'n geliefde sterf of 'n kind emigreer; maar wanneer iets in ons huwelik verkeerd is of ons op 'n betaling wag, kan die beproewing anders wees. Of jou werk nou in die spervuur is omdat jy op grond van jou geloof vir iets of iemand opgekom het, en of jy nou op reën wag, of jou in die pad van 'n orkaan bevind, Jakobus sê: "My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard." (Jakobus 1:2-3)
Beproeweings mag onaangenaam wees, maar ons groei daardeur. In skole word proewe of toetse vir 'n rede gehou. Ons hou selde daarvan, want ons is bang dit kan ons kanse om 'n span te haal of na 'n spesifieke universiteit te gaan, benadeel. Maak nie saak wat die uitkoms is nie, deur beproewings groei ons en dit ontwikkel karakter, wysheid en uithouvermoë.
Ons verduur hierdie beproewings as Christene want ons besit iets kosbaarder as goud. Ons geloof is kosbaar en beproewings is die Here se manier om seker te maak dat dit eg is. Indien ons plastiese kos kry om te eet, vervalste geld om klere te koop, vals nuus oor hoe dit met ons gesin of land gesteld is, sal dit ons enigsins help? Natuurlik nie. Ons verstaan dat dit waardeloos is en ons nie sal help om iets te bereik nie. Met geloof is dit dieselfde: dit sal ons nie help indien dit nie eg is nie.
Ons aanvaar die ironie van lyding wat ons geloof verfyn, want Jesus gee aan ons 'n ewige lewe en ons verheug ons in elke ondervinding – self in pyn. Petrus verseker ons dat beproewing ons in ons geloofslewe sal help en dat dit tot lof en eer van Jesus Christus sal wees.
Dit is wonderlik dat God ons ken en dat Hy ons met liefde behandel! Wanneer ons deur 'n beproewing in Hom volhard, is Hy in staat om ons krisis te verander en ons harte met blydskap te vul. Hy vertroos ons in ons hartseer, herstel en versterk die huwelik wat probleme ondervind het, die orkaan verander van rigting, die reën val. Hy verander ons begrip en ons loof Hom dat Hy ons deur ons beproewings dra. Paulus bevestig dit wanneer hy sê: "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is." (Romeinde 8:28)
Mag die Here jou deur al die beproewings in jou lewe seën!
Gebed: Here, ek weet dat wanneer ek eendag saam met u in die hemel is, my beproewings geensins vergelykbaar sal wees met die lof en heerlikheid wat dan geopenbaar sal word nie. Maar sal U my nou in my aardse lewe help om 'n verskil te maak en ander wat beproef word, te bemoedig. In Jesus se Naam. Amen