n Ma met wysheid - 15 Augustus 2017
Danny Fourie
’n Wyse vrou sorg vir haar huis; ’n vrou sonder wysheid breek alles af. Spreuke 14:1
Die hervormer Luther het van sy vrou gesê: “Sy is meer werd as die koninkryk van Frankryk en die Republiek van Venesië, want sy is 'n vrome vrou wat deur God aan my gegee is.” Uit hierdie woorde blyk hoeveel waarde Luther daaraan geheg het dat sy vrou uit die Woord van God leef. Sy was tot 'n seën vir hul gesin.
Ook Salomo roem die vrou wat die Here vrees, dien. In hierdie teksvers word die besondere plek geteken wat die vrou in die gesin inneem. Die ma speel 'n sentrale rol in die gesinslewe. Wie staan die naaste aan die kinders in hul eerste lewensjare as die ma? In die algemeen meer as die pa wat dikwels uithuisig is.
Die gesin is 'n sel in die samelewing wat vir stabiliteit sorg. Calvyn sê tereg dat die gesin 'n kerkie in die kerk is. In die gesin word die grondslag van die geloofslewe vasgelê. Die ma is die een wat so 'n voortreflike taak kan doen. Dit is geen vernedering vir 'n vrou om in die gesin te leef nie, inteendeel dit is 'n ereplek. Natuurlik kan vroue ook buite die huis hul potensiaal verwesenlik. Daar is baie sulke bekwame vroue. Soms is 'n tweede inkomste noodsaaklik.
Vir die kind beteken 'n gesin met die ma tuis, beskerming en geborgenheid. Die invloed van 'n ma bly tot die dood toe. In hul doodsangs roep soldate na hul ma.
Salomo prys die vrou wat wys is. Dit hoef nie te beteken dat die vrou 'n universiteitsgraad hoef te hê nie. Salomo bedoel met 'n wyse vrou 'n vrou wat die Here vrees. 'n Vrou wat 'n eerbied vir die Here het. In Nuwe-Testamentiese taal 'n vrou wat in Jesus Christus glo, wat vanuit 'n nuwe liefde vir God as Christen probeer leef.
So 'n vrou is koningin, profeet en priester. Koningin in die regering van haar gesin. Profeet in die vertel van God se Woord. Priester in die liefdevolle en biddende versorging van haar kinders. Uiteraard beteken dit nie dat die taak van die pa 'n bysaak is nie, maar Salomo wil die nadruk lê op die besondere rol van die ma.
Gebed: Dankie Here vir al die ma’s wat vir U leef. Gee vir hulle die krag in hul toewyding en versorging van hul gesinne. Amen.