Geen seisoen duur vir altyd nie! - 14 Maart 2017
Hennie Symington
Elke ding het sy vaste tyd; elke ding in hierdie wêreld het sy tyd. Prediker 3:1
Wanneer slegte dinge met ons gebeur, sê ons graag: “Dit sal ook verbygaan.” Verandering is altyd ʼn moontlikheid. Soos ʼn geldstuk met twee kante, kan die lewe ook skielik sy anderkant wys. Seisoene kom en gaan. Goeie seisoene vol seëninge duur nie vir altyd nie; minder goeie tye ook nie.
Ons weet egter uit die Woord van God dat Dawid verskriklike tye beleef het − van talle oorloë en onenigheid in die familie tot waar sy eie seun probeer het om hom te vermoor. Job het ʼn voorspoedige lewe gelei, maar word onthou as die man wat alles verloor het. Tog was hy ʼn regverdige man. Moet dus nie aanneem dat jy slegter of sondiger is as ander wanneer jy verlies ly of deur moeilike tye gaan nie.
Onthou, dinge gebeur. Ons lees in Genesis 8:22: "Solank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie."
Daar sal seisoene wees tot die wederkoms en dalk daarna ook. Moet dus nie te veel waarde heg aan negatiewe dinge wat gebeur nie.
Gebed: Die lewe het ons geleer, dat daar tye van voorspoed en tye van verlies sal wees, maar ons weet ook uit die Woord dat u liefde en sorg verewig voortduur. Amen