Wanneer die dood ons tref - 22 November 2016
Neville Turley
Sy antwoord was: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe. Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.” 2 Samuel 12:22-23
Toe Dawid 'n kind verloor het, was dit vir die geharde koning uiteindelik moontlik om aan te beweeg, maar Rispa kon dit nie doen nie. Rispa was een van koning Saul se byvroue en sy het twee seuns, Armoni en Mefiboset, by hom gehad.
In Dawid se tyd was daar vir drie jaar hongersnood in die land. Dit was God se straf vir 'n verkeerde daad wat koning Saul gepleeg het toe hy die Gibeoniete laat doodmaak het, alhoewel hy beloof het om hulle te beskerm. (2 Samuel 21:1-2)
Die Gibeoniete wou wraak neem. Hulle het daarop aangedring dat Dawid vir Saul se sonde moet vergoed deur sewe van Saul se nageslag aan hulle oor te gee. Dawid het ingestem en hy het Armoni en Mefiboset en vyf van Saul se kleinkinders aan hulle uitgelewer. Die Gibeoniete het hulle opgehang en hulle liggame daar op die berg laat bly.
Stel jou die emosies voor van hulle moeder toe sy van die lot van haar onskuldige seuns verneem. "Rispa dogter van Aja het toe rouklere gevat en dit vir haar op 'n rots oopgegooi. Van die begin van die oestyd af totdat die reëntyd aangebreek het, het sy bedags die roofvoëls en snags die roofdiere nie aan die lyke laat vreet nie." (2 Samuel 21:10)
Toe Dawid hiervan hoor, het hy beveel dat die liggame verwyder word en dat hulle in die graf van Kis, Saul se pa, begrawe word.
Daar is vandag steeds ouers wat in hulle hartseer omdat hulle 'n kind verloor het, vir God kwaad is. Hulle soek rasionele antwoorde, dikwels sonder sukses. Wat ons egter wel weet, is dat God ons so liefhet dat Hy sy enigste Seun gegee het om vir ons te sterf sodat ons, deur Hom, die ewige lewe kan hê.
Gebed: Hemelse Vader, in liefde het U u Seun gegee sodat ons vir ewig by U kan wees. Help ons om u wil vir ons lewens te aanvaar. In Jesus se Naam. Amen