Die sipresboom – 'n Volmaakte tuiste - 17 Augustus 2016
Xanthe Hancox
Die bome van die Here, die sederbome wat Hy op die Libanon-berg geplant het, kry meer as genoeg reën. Die voëls maak hulle neste daar, die ooievaar bou sy nes daar in die sipresbome. Die hoë berge is ’n huis vir die klipbokke, die rotse is veilige plekke vir die dassies. Psalm 104:16-18
Psalm 104 is 'n lofpsalm wat die glorie van God besing en vertel hoe Hy vir sy skepping voorsien, ook vir die ooievaar.
Die naam van die ooievaar in Hebreeus beteken "heilig" en "vriendelik" afgelei van die wonderlike manier hoe ooievaars vir hulle kleintjies omgee. Die wonderlike ouerskap van ooievaars plaas die sipresboom van Psalm 104 in 'n ander lig, want vir 'n ooievaar wat na haar kleintjies omsien, sal net die veiligste boom goed genoeg wees om 'n tuiste in te skep.
Dit is vreemd dat volgens die seremoniële wette (Levitikus 11:19) die ooievaar onrein is en die Israeliete verbied word om hierdie voël te eet. As Christene is ons egter net soos hierdie ooievaar in die sipresboom. Ons is van nature onrein, maar deur die genade van God is dit vir ons moontlik om deur die geloof ons tuiste in Christus te maak. In Hosea 14:9 praat God met Israel en sê: “Ek is soos ’n sipresboom wat altyd groen blare het. Dit is Ek wat julle sal laat lewe.”
Christus is ons sipresboom, ons volmaakte tuiste, en in Hom het ons alles wat ons nodig het.
Gebed: O Heer, U is geklee met grootsheid en majesteit, en nogtans voorsien U vir my alles wat ek nodig het. Here, laat my vandag in U woon. Amen.