Die vyeboom (deel 3) – Net boom en geen vye - 11 Augustus 2016
Xanthe Hancox
Toe hulle die volgende dag van Betanië af terugkom, het Jesus honger gekry. Hy sien toe op 'n afstand 'n vyeboom met blare aan en gaan daarheen om te kyk of Hy nie miskien 'n vy daaraan kry nie. Toe Hy daar kom, kry Hy niks nie, net blare, want dit was nie vyetyd nie. Hy sê toe vir die boom: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.” Sy dissipels het dit gehoor. Markus 11:12-14
Dit klink so onregverdig! Hoe kon Jesus 'n vyeboom vervloek omdat hy geen vye dra nie terwyl dit nie vyetyd was nie? Om dit te verstaan moet ons so 'n bietjie meer van vyebome weet asook van die konteks van hierdie verhaal.
Wanneer blare aan die begin van die lente verskyn, begin die boom ook om klein vruggies (voorvye) te dra. Hierdie is nie die werklike vye nie, maar 'n soort voorloper van die ware vye wat so ses weke later sal verskyn. Maar indien die blare sonder enige van hierdie voorvye verskyn, is dit 'n teken dat die boom geen vye gaan dra nie. Aangesien Jesus net blare gevind het, was hierdie 'n hopelose vrugtelose vyeboom.
Die ander sleutel om hierdie gelykenis te verstaan is in die laaste sin van die teksvers: "Sy dissipels het dit gehoor." Die dissipels het die Ou Testament geken en hulle sou verstaan het dat die vy 'n simbool is van beide God se veroordeling sowel as van die volk van Israel.
Die dissipels het verstaan dat Jesus nie kwaad was vir 'n plant omdat hy honger was nie – Hy was kwaad vir Israel omdat hulle geen geestelike vrugte gedra het nie. Israel was net soos hierdie vrugtelose vyeboom. Hulle het al die uiterlike tekens van 'n geestelike lewe gehad, maar geen vrugte gedra nie.
Daar is 'n boodskap hier vir ons. Wanneer Jesus jou lewe ondersoek (en Hy doen dit), wat sien Hy? Dra jy vrugte tot eer van God? Of is jy net 'n boom vol blare, maar sonder vrugte?
Gebed: Dankie Vader vir die nuwe lewe wat ek in Jesus Christus het. Ek bid dat u Heilige Gees steeds in my sal werk, en my sal help om 'n Christen te wees wat vrugte dra tot u eer. Amen.