Soos 'n boom - 1 Augustus 2016
Xanthe Hancox
Regdeur die Bybel word daar baie van bome gepraat – in die Engelse King James Bybel word daar na 37 verskillende soorte bome verwys. Sommige soorte, soos byvoorbeeld die sipres, akasia en die esseboom word slegs een keer in hierdie vertaling genoem. Ander, soos die palmboom, die olyf, die vyeboom en die seder word verskeie kere genoem. Vir die res van die maand gaan ons deur 'n woud stap bestaande uit bome wat in die Bybel voorkom en ons gaan van hulle leer.
Voordat ons begin om die belangrikheid van spesifieke bome in die Bybel te bespreek, gaan ons eers let op vier kenmerke van bome waarna in die Bybel verwys word, en wat Christene moet nastreef.
Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. Psalm 1:3
Om soos bome te wees, moet ons geplant, produktief, 'n lus vir die oog en voorspoedig wees.
Bome word geplant. Soos 'n boom moet ons verplant word, oorgeplant vanuit ons ou lewe na 'n nuwe verhouding met Christus. En dit is belangrik dat God self ons verplant, want in Matteus 15:13 lees ons: "Maar Jesus antwoord:Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word."
Bome is produktief. Let op die frase, “…by waterstrome geplant …” Indien 'n boom nie water kry en sy wortels nie die water kan opsuig nie, sal dit verdroog en doodgaan. Wanneer God jou plant, plant Hy jou in jou eie lewegewende bron, die Heilige Gees, sodat jy kan groei en floreer en produktief kan wees vir Hom. Jou wortels is geanker in hierdie lewegewende bron wat jou in staat stel om die vrug van die Gees te dra.
Môre kyk ons na wat ons van bome kan leer oor skoonheid en voorspoed.
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U my in 'n nuwe, lewende verhouding met U geplant het. Dankie vir u Heilige Gees wat in my woon en my help om soos 'n boom goeie vrugte vir U te dra. Amen.