Moenie stres nie! - 28 April 2016
Hennie Symington
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en julle sinne die wag hou in Christus Jesus. Filippense 4:6-7
Ons leef in ʼn bose tyd waar bloedvergieting en haat onder mense algemeen is en ʼn nimmereindige weeklaag vir die dooies en die sterwendes oor televisieskanale, sowel as sosiale en ander media, sonder ophou in ons ore weerklink. Dis asof daar nie genoeg trane is vir al die pyn en lyding wat ons moet aanskou nie. Tog maan Paulus ons om nie toe te gee aan vrees en bekommernis nie.
Paulus se lering oor gebed en bekommernis herinner ons aan Jesus se woorde in die Bergpredikasie oor angstigheid en God se voorsienigheid – “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie … Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Matteus 6:25; 34
Wanneer jy bang en angstig is oor wat môre sal bring, is Paulus se raad om op jou knieё te gaan voor die Vader wat die hemel en die aarde in sy hand hou, en hom te vra om jou deur sy Gees te versterk. Paulus beskryf hierdie krag nie as ʼn gewelddadige of aggressiewe krag wat om vergelding roep nie, maar as ʼn innerlike krag wat vrede uitstraal. In tye soos hierdie is dit nodig om die lengte en die diepte van jou geloof te beproef. En voluit in die volheid van God te leef.
Gebed: Here, die wêreld is vandag ʼn skrikwekkende plek waar vrees ons daaglikse brood word. Laat die woorde van Paulus, wat elke tipe beproewing ervaar het, ons troos en bemoedig om op u wysheid en liefde te vertrou. Amen