Vers n dag - 18 Oktober
11.  Om bejaardes in die koninkryk te bedien
Hennie Symington
Skrifgedeelte
Dink aan jou Skepper in jou jong dae, voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waavan jy sal sê: “Ek het daar niks aan nie.†Pred. 12:
Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.Joh.21:18
Wanneer die amandelboom bloei
Maak nie saak wat enigiemand te sê het oor die kompensasies van oudword nie – soos goedkoper fliekkaartjies, afslag by winkels op Woensdae en ʼn aftrede sonder werkstres – ons almal vrees die dag wanneer ons besef die ouderdom het ons ingehaal.
As jy gelukkig is het jy voorsiening gemaak vir jou ou dag wat mediese sorg en versorging betref. As God jou genadig is en jy jou verstand behou, dan is jy nog gelukkiger. Maar daar is talle bejaardes in ons land wat in diepe ellende lewe.
Geen waarde aan bejaardes?
In ʼn samelewing waar jeugdigheid en skoonheid verafgod en geïdealiseer word, het hulle nie waarde nie. Gevolglik is die mishandeling van bejaardes algemeen onder ryk en arm en in alles sosiale groepe.
Baie kinders sien hulle bejaarde ouers as net nog ʼn las op ʼn huishouding wat reeds swaar dra aan geldelike verpligtinge. Hoewel hulle dikwels liggaamlik mishandel word, is emosionele mishandeling en verwaarlosing amper ʼn erger probleem. Hulle word geïntimideer en verkleineer. Daarby word hulle karige pensioengeld dikwels deur die kinders vir hulleself gebruik.
Oudword is almal se voorland
Die onontkombare feit is dat ons almal eendag in daardie bootjie gaan wees. Ons moet dus ons waardes wat bejaardes betref in orde kry. Die manier waarop jy jou ouers behandel gaan vir jou kinders ‘n voorbeeld stel oor hoe hulle jou gaan behandel wanneer jy oud en afhanklik raak.
Ouer mense mag oud wees maar hulle is nie noodwendig onkapabel nie. Hulle weet presies wat hulle wil hê; laat hulle dus toe om so lank moontlik besluite oor hulle eie lewens te neem terwyl jy met goeddeurdagte raad bystaan.
Kom ons kom ons plig na, nie net ten opsigte van ons eie gryse moeders en vaders nie, maar ook teenoor dié wat wees gelaat is deur hulle kinders. Nie net omdat dit van ons as Christene verwag word nie. maar omdat ons hulle liefhet en respekteer.
Here, gee ons die nodige krag wanneer ons ouers soos ons kinders word. Gee ons geduld en liefde om hulle met respek en waardigheid te behandel.