Lead, Kindly Light - 10 Julie 2014
Xanthe Hancox
Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Johannes 8:12
"Lead, Kindly Light" (Afrikaanse woorde: Lei U ons lig) is 'n lied waarvan die woorde in 1833 deur John Henry Newman geskryf is. Hy het dit as 'n gedig met die titel "The Pillar of Cloud" geskryf. Newman het in Italië siek geword en hy kon vir drie weke nie verder reis nie. Hy was uiters gefrustreerd. Hy het werk in Engeland gehad om te doen en het gebrand om by die huis te kom. Alles het egter verkeerd geloop. Uiteindelik was hy gesond genoeg om verder te reis en kon hy aan boord 'n skip gaan net om vir byna 'n week in die Straat van Bonifacio as gevolg van windstilte vasgekeer te wees. Daar op die dek van die skip terwyl hy na die beweginglose water kyk, het Newman besef dat God se plan nie sy plan is nie. Hy het sy trots gesluk, sy vertroue opnuut in God geplaas en hierdie woorde geskryf:
Lead, kindly Light, amid th’encircling gloom, lead Thou me on!
The night is dark, and I am far from home; lead Thou me on!
Keep Thou my feet; I do not ask to see
The distant scene; one step enough for me.
In die liedboek wat deur verskeie Afrikaanse kerke gebruik word, is hierdie woorde van Newman se lied opgeneem:
Lei U ons, Lig, deur hierdie duisternis,
Lei U ons, Heer!
Steil is die pad waarop ons pelgrims is,
Lei U ons, Heer!
Wys U die weg, ons wil U ewig volg.
Waar U mag lei, sal ons getrou U volg.
Hierdie lied is in 'n tyd van angs en nood geskryf en word dikwels in sulke tye gesing. Gedurende die 1909-mynramp by die Stanley myn in Engeland het 34 mynwerkers bymekaar gesit in 'n area waar daar vars lug was. Daar in die donkerte, beangs dat die ergste gaan gebeur, het hulle begin om hierdie lied te sing. Hulle het kalm gebly en die meeste van hulle is gered. Hierdie lied is ook op een van die reddingsbote van die Titanic gesing toe hulle die volgende oggend die skip Carpathia gewaar het. Betsie Ten Boom, die suster van Corrie Ten Boom en van die ander vroue het hierdie lied gesing onderweg na die Ravensbruck konsentrasiekamp gedurende die Tweede Wêreldoorlog.
Alhoewel dit belangrik is om ons tot God te wend wanneer ons moeilike tye beleef, moet ons egter onthou om altyd Jesus, die lig van die wêreld, te volg en ook dié Lig met ander te deel.
Gebed: Hemelse Vader, vergeef mydie kere wat ek my eie pad wil loop. Help my om Jesus, die lig van die wêreld, te volg en om ook daardie Lig met ander te deel. Amen
Luister hier na 'n Engelse weergawe van die lied: https://www.youtube.com/watch?v=IGY1niukcVI