Bly by my - 2 Julie 2014
Xanthe Hancox
Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Lukas 24:28-29
Bly by my Heer is 'n lied wat jou miskien aan begrafnisse laat dink, of as jy 'n sokkerondersteuner is en Engelse Sokker volg, sal dit jou aan die FA-Beker Finaal laat dink. Sedert 1927 word die eerste en die derde vers altyd net voor die afskop van hierdie wedstryd gesing.
Hierdie lied is nogal baie geskik vir 'n begrafnis. Dit verwys na die skadu's wat daal, die lewensdag wat alreeds begin kwyn en na die glans wat besig is om te verdwyn. Verder is die lied deur Henry Francis Lyte op sy sterfbed geskryf. Hy het tering gehad en het hierdie woorde as 'n gebed neergeskryf. In die lied vervat hy die woorde van die dissipels toe hulle die opgestane Jesus op die pad na Emmaus ontmoet het. Dit is vir ons opgeteken in Lukas 24.
Die dissipels se versoek," Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby" en weergegee in Lyte se lied, is nie net woorde vir die sterwendes nie, dit is ook woorde vir ons wat leef. Een van die strofes van Bly by my Heer lui soos volg:
U bystand is kosbaar elke uur;
Deur u genade leer ek leed verduur.
Waar is daar ooit ’n beter lig te kry?
U Gees bly immer ons onfeilbaar by.
Hierdie lied herinner ons daaraan om die Here te vra om by ons te bly. Om as die Onveranderlike daar te wees wanneer alles om ons verander. Om met ons te wees soos die woorde van die lied sê: "U wat ons nooit verlaat nie, goeie Heer, weet om met swakke mense te verkeer." Wanneer ons na sy teenwoordigheid verlang, openbaar Hy Homself aan ons, netsoos Hy Homself op die pad na Emmaus aan die dissipels geopenbaar het. En Hy verseker ons verder soos Hy sy dissipels in Matteus 28:20 verseker het: "En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Gebed: Hemelse Vader, ek het vandag en elke dag u teenwoordigheid in my lewe baie nodig. Soos die woorde van die lied my leer: "deur u genade leer ek leed verduur." Bly by my Heer, nou en vir altyd. Amen
Luister gerus na 'n opname van die Broers hier:
https://www.youtube.com/watch?v=i4IiHfx4Bts