Jou verhoudinge: Wees getrou - 23 Junie 2014
Carina Francke
Teksvers: En toe verander alles: "My volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie." (Jer 2:13).
Ons het gister gesels oor hoe God inisiatief geneem het om in 'n verhouding met mense te wees en hoe Hy sy volk Israel (en vir jou en my) besing as Sy bruid wat Hom agternaloop, al is dit in 'n woestyn.
Ongelukkig kon die Israeliete (en dikwels ons ook) nie volhard in toegewydheid aan verhoudinge nie. Nie lank nadat hulle uit die woestyn is en die Beloofde Land ingetrek het nie, doen hulle wat mense vandag ook met nuutgevonde vryheid en voorspoed doen - hulle raak selfvoorsienend. En nie lank daarna nie word afhanklikheid van God 'n oorbodigheid. Jeremia 2:6-8 gee die rede hiervoor- mense erken nie meer dat God hulle Redder en Voorsiener is nie, hulle vra nie meer na Sy wil nie en hulle is nie meer aktief in 'n verhouding met Hom betrokke nie.
En die tragiese gevolg hiervan is dat jy op die ou einde niks wen nie - jy drup geleidelik leeg van die dorslessende water wat die Bron van lewe jou gee. Die Here sê by monde van Jeremia: "My volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie." (Jer 2:13). Ons verruil die Een wat ons heerlikheid is, vir dinge wat geen voordeel bring nie (v 11).
Hierdie afdwaal van ons harte suur deur na ons aardse verhoudinge. Egpare vergeet die liefde wat hulle tot by die kansel gebring het, en beloftes van trou aan mekaar word verbreek en ingeruil vir die skyn van beter geluk.
Maar alles is nie verlore nie. Die Here nooi steeds elke afgedwaalde geliefde van Hom: "Keerterug, o afkerige kinders, want Ek is Heer oor julle; en Ek sal julle neem..." (Jer 3:14) kry nuwevertaling.
Gebed:Here, die realiteit van my kinderlike agternaloop waarheen U ookal gelei het, lê amper vergete agter my. Ek wil weer sonder bevraagtekening U unieke pad met my loop, maar U spoor is verdof deur my distorte sig en hardhorendheid. Laat my toewyding aan U weer aangevuur word deur die onfeilbare, ewig-teenwoordige Heilige Gees. Amen