Konneksie: Skryf in die grond - 13 Junie 2014
Carina Francke
Teksvers: Joh 8:5,6: "Moses het in die wet bevel gegee om sulke vroue stenig; maar wat sê U? Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskrywe. Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een wat sonder sonde is, die eerste klip gooi. En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe."
Genade is liefde wat omgee, wat neerbuig en wat red. (John Stott)
'n Vrou word in egbreuk betrap en na Jesus gebring om uitsluitsel te gee oor haar lot - steniging volgens die Wet. Sy reaksie is onortodoks, revolusionêr - Hy buk af en praat deur Sy vinger wat skryf in die grond. Die boodskap is onbekend, maar gesonde verstand common sense sê dat die wind dit sommer gou-gou sal toewaai, dat mense daaroor gaan en dat dit dan onleesbaar sal wees.
Die aanklaers is egter blind vir hierdie visuele antwoord en lewensles en dring aan dat Jesus met hulle praat. Sy antwoord: "Laat dié een wat sonder sonde is, die eerste klip gooi," asook die terugkeer na Sy skryfbord van grond, laat die lig van verstaan deurbreek. Hy skryf egbreuk, selfregverdiging, genadeloosheid, slinksheid en...en...in sand en graveer dit nie op klip nie. Sy liefde vir mense kan nie anders as om uitdrukking te vind in genade en vergifnis nie.
Jesus konnekt op meesterlike manier met aanklaers en aangeklaagde. Hy stel niemand bloot nie, maar spreek hulle gewete met Sy woorde aan; die skrif in die grond skree stom dat Hy dit nie teen hulle hou nie, maar dit wil uitvee.
Vir die vrou sê Hy: "Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie." Hy wis haar oortredinge uit en gee haar 'n tweede kans - een waar sy nuut kan begin, maar gee haar ook verantwoordelikheid - hou op met sonde doen.
Dalk is jy die aangeklaagde wat voor mense staan en wag dat hulle jou vonnis. Onthou dan, jou oortredinge is nie op klip graveer nie, maar in grond waaroor Jesus wil skryf: Vergewe!
Of dalk is jy die Fariseër of Skrifgeleerde wat baie maklik die splinter in ander se oë sien maar blind is vir die balk in jou eie oog. Vir jou sê Jesus: Gooi die eerste klip.....maar net as jy geen balk in jou eie oë kan vind nie.
Genade is immers liefde wat omgee, wat neerbuig en wat red.
Gebed: My Vader, te dikwels sleep ek genadeloos mense voor my eie selfregverdigende regbank terwyl ek blind is vir dit wat oor my in grond geskryf staan. As ek dit weer doen, maak asseblief my hartsoë oop sodat ek U uitveemerke oor my eie oortredinge kan sien, want net dan kan ek ook genade toon. Amen