Jou tuiste....Bewaak dit - 10 Junie 2014
Carina Francke
Teksvers: Spr 4:23: "Bewaak jou hart meer as alles wat bewaak moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe."
Ons het gister gesê dat rowers dié dinge wil steel wat jou bemagtig om 'n tuiste te skep. Hulle roof onder andere jou vrede, maar teiken veral ook jou hart.
Die Vine's Dictionary beskryf die hart as die fisiese orgaan wat jou aan die lewe hou. Die uitbreiding van dié betekenis het spontaan ontwikkel sodat die verstandelike (rasionele) en morele (emosionele) aktiwiteit daarby ingesluit word. Met ander woorde, die hart is figuurlik gesproke die verborge oorsprong van jou lewe.
Jesus verklaar op skitterende wyse presies wat bedoel word as die Spreukeskrywer sê ons moet ons harte bewaar omdat dit wat daarbinne aangaan, bepaal hoe die mens dink en leef.
In Matteus 15 spreek Hy eerstens tradisies en mensegebooie aan wat onderhou word ten koste van gehoorsaamheid aan God se opdragte. Mensgemaakte morele wette of rituele skep kunsmatige grense wat niks verander aan die mens se hart nie. Boosheid het immers sy oorsprong in die hart en vind uitdrukking in dinge soos slegte gedagtes, egbreuk, bedrog, hebsug, losbandigheid, laster en ander soortgelyke dinge. Wette en tradisies beskik nie oor die krag om 'n hart skoon te hou nie! Jou aktiewe verhouding met God en jou gehoorsaamheid aan die Heilige Gees se inspraak, is al wat jou hart rein hou.
Jesus leer die skare verder dat selfregverdiging 'n dief is wat jou hart steel, dit maak van jou 'n geveinsde wat jou oë toemaak vir jou eie gebreke. "Hoe kan jy vir jou broeder sê: Broeder, laat my toe om die splinter wat in jou oog is, uit te haal, terwyl jy self die balk wat in jou oog is nie sien nie?" Nee, Hy wil hê ons moet by onsself begin - doen selfondersoek, kyk in jou eie harten haal dan éérs die groot booshede uit jou hart voordat jy dit waag om ander mense oor hulle geringe oortredinge aan te spreek. (Luk 6:42).
Jy sien, as bogenoemde gesindhed in jou hart groeiplek kry, verdring dit die vrug wat deur die Gees in jou lewens voortgebring moet word. Of ek en jy nou daarvan hou of nie, die boom ( ek en jy) word aan sy vrugte geken. As die hart bewaak word om die goeie daarin te laat wortelskiet, kan dit nie anders as om goeie vrugte voort te bring nie. Die teenoorgestelde is egter ook waar: boosheid steel, nee, vernietig die goeie vrug wat van jou hart Sy tuiste maak.
Gebed. Hemelse Vader, my hart mag net goeie vrug dra, daarom wil ek doen wat Judas 20-24 aanbeveel: Ek wil in die Gees bid en myself in die liefde van God bewaar. Ek weet U is magtig om my van struikeling te bewaar sodat ek sonder gebrek voor U kan staan. Amen. (Judas 20,21,24)