Jou huis...'n tuiste onder vernuwing - 3 Junie 2014
Carina Francke
1Kor 3:16 "Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
In gister se dagstukkie het ons ontdek dat God kies om in ons donkerte te kom woon sodat Hy daardie donkerte kan verdryf. Jy sien, ons isgeskape om mens vir Hom te wees; ons is gekoop om Sy blyplek te wees - sonder in agneming van hoe ons binne of buite lyk. Hy forseer egter nie die deur oop en kom plak summier daar nie. Nee, Hy wag vir elke individu om sélf die voordeur oop te sluit en Hom in te nooi sodat Hy van daardie lewenshuis, 'n tuiste kan maak.
Wanneer Hy kom inwoon, is daar maar een vereiste wat 'n rol jou speel - jou geloof in Hom.Wat beteken dit vir jou? Die donker in jou lewe word deur Sy lig verjaag en jy word lig wat Hom reflekteer; Hy gee aan jou die Heilige Gees wat as jou Helper langs jou kom staan om jou te help lééf; en Hy begin 'n lewenslange opknapping, nee, vernuwingsproses in jou lewe - jy is immers Sy tempel! Onthou egter, jou samewerking is nodig om elke fase van konstruksie af te handel en dit behels jou gewilligheid om te hoor, gehoorsaamheid as Hy fluister en om daarna te doen soos Hy vra.
Sy liefde vir jou laat Hom nie toe om jou in die toestand te los waarin hy jou gekry het nie en hopelik is jou liefde vir Hom - daardie "Sy liefde wat Hy in jou hart uitgestort het deur die Heilige Gees" ( Rom 5:5) so brandend dat jy wíl saamwerk.
Ontspan: hierdie vernuwing of skoonmaak van Sy tuiste vra nie die nakom van 'n klomp reëls en wette nie, maar dat jou "geloof deur die liefde tot dade moet oorgaan." (Gal 5:5 NAV). Is jy gewillig om jou liefde vir God en mense in dade om te sit?
Gebed: Vader, wat 'n ontsagwekkende gedagte dat 'n gewone, sterflike mens soos ek, U tempel kan wees. Mag my wil om saam te werk nooit aan bande gelê word deur eie begeertes en eiesinnigheid nie. Amen