DANKBAAR DAT ONS LEEF! - 30 Mei 2014
Deur Benescke Janse van Rensburg
(NOTA: Baie dankie van my kant af vir elke leser wat ’n e-pos gestuur het en getuig het van God se goedheid oor die afgelope maand. Dit was ’n voorreg om deel van die reeks te wees. Benescke).
Ek wil vandag die dankbaarheidsreeks afsluit deur jou van ’n klein held van my te vertel. Hy het in April vanjaar 9 jaar oud geword. Ten spyte van geweldige pyn en trauma wat hy al in sy lewe ervaar het, bly hy vol lewenslus en leef hy daagliks dankbaar. Sy naam is Ulrich van Pletzen.
Op 4 en ’n half jarige ouderdom het Ulrich in 2009 saam met sy ouers op Nuwejaarsdag in Struisbaai aangekom. Sy ouers was besig om af te pak en terwyl hy en sy broer met hulle fietse rondry het ’n vreemde hond vanuit nêrens verskyn en Ulrich in die gesig byt. In ’n oogwink is sy pragtige, onskuldige seunsgesiggie vermink.
By die hospitaal het trane oor beide die teatersuster en ook die narkotiseer se wange gestroom waar hulle Ulrich regop moes hou om hom in die teater te verdoof. Hulle was bang dat hy aan die geweldig baie bloed van sy gesig sou verstik. Die hond se bytplek het veroorsaak dat die middel van Ulrich se gesig geamputeer moes word. Tot op hede het Ulrich alreeds dertien operasies gehad en ’n lang herstelpad lê steeds voort. Tog bly hy ’n bondel vreugde wat aan verskeie sportsoorte deelneem en selfs provinsiale klere in gimnastiek verwerf het.
Ulrich se woorde aan die einde van ’n videogreep wat sy storie vertel (sien skakel onder), het my diep geraak. Hy sê: “Ek wil net baie dankie sê aan almal wat my ondersteun en liefhet. Ook wil ek vir Jesus dankie sê dat Hy my gehelp het dat ek nie doodgaan nie. Ek weet Hy het nog ’n groot plan met my lewe.” Leef jy soos Ulrich dankbaar vir elke dag wat tot jou lewe toegevoeg word ten spyte van seer, teleurstelling en hartseer wat ons soms ervaar?
Ek wil jou weereens aan die woorde in Efesiërs 5:20 herinner: “Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.” Ook in 1 Tessalonisense 5:18 lees ons: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” En in Psalm 118:24 staan geskryf: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”
’n Dankbare hart hou ons oë op God. Dit herinner ons aan wat Hy kan doen en stel ons in staat om sy liefde en krag in ons situasies te ervaar. Mag ons nooit ophou om dankbaar te leef nie. God ken immers ons toekoms en dankbaarheid is die sleutel tot ’n gelukkige lewe. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek te midde van my uitdagings kan weet dat U steeds hier is. Help my asseblief om doelbewus ’n dankbare gees te hê. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- VIDEO: Kyk hier na ’n kort videogreep van die storie van Ulrich van Pletzen: https://www.youtube.com/watch?v=fR3GuFtaRjE
- FOTO’S: Vir foto’s van Ulrich: http://benescke.co.za/blog/2014/05/29/dag-20-dankbaar-dat-ons-leef/#more-395
TERUGVOERING: Wat was jou ervaring van die reeks? Deel dit gerus met ons by