Loop ʼn pad van vrede - 24 April 2014
Hennie Symington
Hoe wonderlik klink die voetstappe
van een wat vrede aankondig. Jesaja 52:7
“Beywer julle vir vrede met alle mense.” Hebreërs 12:14
Vrede is seker een van die grootste versugtings van die mens vandag. Ons kry dit egter nie eens reg om met ons eie mense in vrede te lewe nie, wat nog van vreemdes. Tog word elkeen van ons geroep om ʼn vredemaker te wees. In Efesiërs 6:15 word ons aangesê om die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.Vra jou af hoe klink jou voetstappe vir ander as jy in die oggend opstaan.
Hoe maak ʼn mens vrede?
- In nederigheid. Dit beteken dat God en nie jy belangrik is nie.
- As jy vrede met jou medemens nastreef ongeag van wie dit is.
- As jy die waarheid praat. Moenie God se boodskap van vrede probeer aanpas vir ʼn ongelowige wêreld nie.
- As jy luister voordat jy praat en nie uit twee monde praat nie.
- As jy jou verdiep in die Woord sodat jy weet waarvan jy praat.
- As jy bid sonder ophou. Bid vir wysheid, genade en krag om die boodskap van vrede sonder vrees uit te dra.
- As jy die prys van vrede ken. Jy moet daagliks jou kruis opneem en Christus volg as jy ʼn vredemaker wil wees.
- As jy begin by jouself, jou eie omgewing, jou eie dorp, jou eie huis.
- As jy die ander wang draai en nie altyd eerste op jou perdjie spring nie.
As jy jou bewyer vir vrede maak jy soos God met ons maak: Hy maak vrede met ons.
Gebed: Here, ek moet erken dat ek meer moeilikheidmaker as vredemaker is. Gee my u vrede wat alle verstand te bowe gaan. Amen