Paulus se laaste brief - 19 Maart 2014
Neville Turley
Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 2 Timoteus 1:9
As jy weet dat jy binnekort gaan sterf, wat sal jou finale boodskap aan jou geliefdes wees? Paulus was in hierdie posisie. Hy was 'n gevangene in Rome toe hy hierdie brief geskryf het aan Timoteus wie hy as sy geliefde seun beskou het. 2 Timoteus 1:2
Paulus het Timoteus se moeder en ouma geken en as jongman het hy een van Paulus se metgeselle en medewerkers geword.
Hulle was baie verskillend van aard. Die titel van Taylor Caldwell se boek oor Paulus is nie verniet "The great lion of God" nie. Hy was 'n vreeslose vegter wat, gedring deur sy ywer en toewyding aan die Christensaak, bereid was om vriend en vyand aan te durf.
Timoteus was baie jonger. Hy het nie die agressiewe geaardheid van die apostel gehad nie. Hy was meer teruggetrokke en skugter van aard.
Paulus was ook baie beskermd teenoor Timoteus. "Wanneer Timoteus kom," skryf Paulus aan die Korintiërs, "moet julle hom by julle laat tuis voel, want net soos ek, doen hy ook die werk van die Here. Niemand moet op hom neersien nie." 1 Korintiërs 16:10-11
Paulus se brief is vol van versekering en goeie raad aan Timoteus. Die hooftema, volharding in die geloof, is van toepassing op alle Christene.
Ons moet in alle omstandighede getrou wees aan Jesus Christus. Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees – nie op grond van ons dade nie, maar vir sy eie doel en deur die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. Ons ontvang genade verniet van God en dit is onverdiende. Genade is reeds voor die begin van tyd in Christus Jesus aan ons geskenk.
Paulus se laaste opdrag aan Timoteus was om aktief te bly in sy geloof en om getrou die boodskap van die Here te verkondig. Dit is raad wat ons ook moet volg en wat ons ook aan ons geliefdes moet oordra.
Paulus sluit hierdie laaste brief wat hy ooit sou skryf af met twee seëninge: een vir Timoteus: "Die Here sal by jou wees" en een wat ons almal insluit "Die genade sal by julle wees!"
Hierop kan ons maar net antwoord – AMEN. AMEN. AMEN.
Gebed: Almagtige God, skenk aan ons die genade om getrou ons geloof uit te leef, ter wille van Jesus Christus, ons Verlosser. Amen