Wat is die betekenis van die lewe? - 11 Maart 2014
Neville Turley
God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie. Prediker 3:11
Een hele boek van die Bybel word gewy aan die betekenis van die lewe. Dit is die boek Prediker en ons maak hier kennis met 'n soort 'omgekeerde sielkunde'.
Die skrywer kyk terug op sy lewe en hy sê dat alles tot niks kom en net 'n gejaag na wind is. Baie mense glo dat koning Salomo, die wysste man wat ooit geleef het, die skrywer van die boek Prediker was,of dat die boek oor hom handel.
Wat ook al die geval, die skrywer was 'n persoon wat baie ryk was. In sy poging om die betekenis van die lewe te vind, het hy hom oorgegee aan plesier totdat hy besef het dat dit nie die antwoord is nie. Hy het groot bouprojekte aangepak, huise gebou, wingerde geplant en tuine en parke aangelê. Hy het vir hom slawe gekoop, meer beeste en kleinvee as enige iemand anders in Jerusalem besit en goud en silwer opgegaar.
Hy het alles gehad wat 'n mens kon begeer. Maar in sy wysheid het hy besef dat niks wat hy bereik het, iets beteken nie. Hy het gesien dat alles niks was, 'n gejaag na wind. Die ware betekenis van die lewe het hom ontwyk.
Uiteindelik het hy God se plan vir sy lewe verstaan. God het die ewigheid in ons harte geplant en dit is dit wat ons lewens betekenisvol maak.
Jou lewe is nie jou eie nie, dit behoort aan God. Ons is hier om sy ewigheidswerk te doen, volgens sy plan en in sy tyd. Ons is hier om Hom te dien en sy gebooie te onderhou.
Mag Hy ons die genade gee om dit te kan doen.
Gebed: Hemelse Vader, gee dat ek deur die leiding van die Heilige Gees 'n betekenisvolle lewe tot U eer sal leef. Amen