Aan Hom die eer! - 7 Maart 2014
Neville Turley
Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit. Matthew 24:35
Vandag is 'n baie spesiale dag vir mense wat die Bybel liefhet. Die Bybelgenootskapbeweging is 210 jaar oud.
Die Britste en Buitelandse Bybelgenootskap is op 7 Maart 1804 in Londen gestig. Hierdie Genootskap is die moedergenootskap van baie ander Bybelgenootskappe, ook van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Die besluit om 'n genootskap te stig om die groot tekort aan Bybels te probeer verlig, was die gevolg van die begeerte en volharding van 'n arm Walliese tienermeisie wat beslis was om 'n Bybel in haar taal te bekom. Nadat sy vir jare geld bymekaargemaak het, het sy sowat 40 km na die naaste dorp gestap om 'n Bybel by die plaaslike predikant te gaan koop.
Tydens 'n vergadering in Londen het daardie predikant haar in sy pleitrede vir Bybel vir Wallis as voorbeeld gebruik. 'n Medepredikant het saamgestem en gesê: "Indien vir Wallis, hoekom nie vir die koninkryk nie, hoekom nie vir die hele wêreld nie?"
Die werk wat Bybelgenootskappe doen, het nie eers in 1804 begin nie. Dit gaan baie verder terug. Toe Moses met die 10 gebooie wat hy met die volk van die Here moes deel van Sinai af gekom het, was dit reeds 'n voorsmakie van wat Bybelgenootskappe vandag doen.
Die volledige Bybel is tans in 484 tale beskikbaar en die Nuwe Testament en Bybelboeke in 'n verdere 2 067 tale. Maar met meer as 6 000 tale in die wêreld, is die taak nog lank nie klaar nie.
Die wonderlike van Bybelgenootskapwerk is dat alle Christene van alle ouderdomme betrokke kan raak, byvoorbeeld deur die Bybel-per-Maand Klub. Lede is aktief betrokke by vertalings- produksie- en verspreidingsprojekte, beide vir Suid-Afrika en die res van die wêreld.
Miskien roep die Here jou vandag om die goeie nuus van die evangelie op hierdie manier met ander te deel.
Gebed: Here, dankie vir die versekering dat u woord nooit sal vergaan nie. Seën almal wat die Evangelie versprei sodat mense regoor die wêreld U kan loof en prys. Ons bid dit in u Naam. Amen