Meer as ʼn winskoop! - 9 Desember 2013
Hennie Symington
Kom, almal wat dors is, kom na die water toe,
Selfs ook die wat nie geld het nie, kom,
Koop en eet;
Ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal,
Wyn en melk. Jesaja 55:1
“Ek is die brood wat lewe gee. … En die brood wat ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.” Johannes 6:48;51
Vroue – en mans! – hou daarvan om inkopies te doen. Daar’s niks lekkerder as ʼn strooptog deur die winkelsentrums om jou kooplus te bevredig is. En as daar nou een ding wat ons, en veral die skoner geslag, nie kan weerstaan nie, is dit ʼn winskoop. Vroue is meesters van die winskopie-wiskunde. Hulle dink altyd aan hoeveel hulle gespaar het op ʼn onnodige item eerder as aan die geld wat hulle gemors het deur dit te koop. (Gaan tel bietjie in jou kombuiskaste hoeveel ongebruikte katoetertjies daar lê.)
Stel jou nou voor hulle kondig af oor die winkel se luisprekerstelsel dat jy al die winskope op die uitverkoping gratis kan kry. Pandemonium! Jy en al die vroue en mans in die winkel sal met arms vol klere by die die winkel uitloop. En terugkom vir meer tot jy nie meer ʼn enkele stukkie klere in jou kas kan inpas nie. En dan is jy boonop later spyt dat jy nie meer gevat het nie. Die ewige honger na iets meer om die leemte te vul word net nie bevredig nie.
In Jesaja lees ons ook van ʼn onweerstaanbare winskoop. Hy praat van ʼn spesiale aanbod wat niemand nog ooit kon klop nie. Dis ʼn uitnodiging aan al die dorstiges in die woestynland om water te kom kry en kos te kom koop. En nie net kos nie maar ook wyn en melk. En die prys? Niks. Mahala! Dis klaar betaal. En wat meer is, die brood waarvan hy hier praat is die brood wat ons siele voed.
In die Nuwe Testament word hierdie aanbod herhaal. Ons kan brood verniet ky. “Ek is die brood wat lewe gee,” sê Jesus in Johannes 6:48. As ons van hierdie brood eet, sal ons nooit weer honger word nie. As ons Jesus se liggaam eet soos soos in die nagmaal, word ons honger na meer gestil. Met al die lekker vakansievierings voor die deur gaan ons natuurlik te veel eet. En later spyt kry daaroor. Maar die brood van lewe wat ons voed sonder dat ons ooit weer honger gaan kry, is ʼn aanbod wat geen ander geloof op die markplein kan klop nie.
Gebed: Here, ons soek altyd na meer en beter, terwyl ons die beste wat daar is, miskyk. Dankie vir hemelse brood wat U onbeperk aan ons bied. En dat u uitsonderlike aanbod geen einde het nie. Amen