Ben Fourie

En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek. ... Jode en proseliete, mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat. Handelinge 2:4,11, 2020-vertaling
 
Na die hemelvaart het die gelowiges sekerlik gewonder hoe hulle die groot opdrag om die wêreld te evangeliseer, sou kon behartig. Wat hiervandaan af gebeur sou immers bepaal of dit wat Jesus kom doen het maar net vir 'n klompie Jode van waarde was en of die boodskap deur die hele wêreld sou versprei. Ons gaan later in die maand, nader aan Pinkstersondag, weer kyk na die Pinksterfees, veral wat dit vir die ontstaan en groei van die kerk van Jesus Christus beteken het. Wanneer ons vandag fokus op sekere gebeure tydens die Pinksterfees, is dit om te gaan seker maak oor die boodskap waarmee hierdie groepie mense die wêreld sou ingaan. Die inhoud van hierdie boodskap sou bepaal of die kerk van Jesus Christus die wêreld sou oorwin.
 
By die Pinksterfees vind daar behalwe vir die klank van 'n stormwind en dit wat soos tonge van vuur gelyk het, nog 'n baie besonderse iets plaas. Na die Babiloniese ballingskap is die Jode oor die hele bekende wêreld verstrooi, die sogenaamde Diaspora. Hulle het natuurlik ook die taal van die verskillende lande waar hulle gaan woon het as huistaal gehad. Hierdie Jode in verstrooiing het graag vir die groot feeste Jerusalem toe gekom. Die meeste mense van daardie tyd kon Grieks praat, maar hier op die dag van Pinkster hoor hulle skielik hulle huistaal. Wat hoor hulle? Hulle hoor die dissipels praat oor die groot dade van God, iets waarvan in die Ou Testament dikwels gepraat word. Lees gerus Psalm 71:19.
 
Wat sekerlik anders was, is die inhoud van hierdie lofprysing, want wanneer die dissipels hier oor die groot dade van God praat, het dit beslis gegaan oor wat God deur Jesus se sterwe, opstanding en hemelvaart gedoen het. Hierdie boodskap is die rots waarop die kerk gebou is, toe en nou.
 
Gebed: Liewe Here, help my om elke dag te praat oor die groot dinge wat God gedoen het en nog steeds doen. Amen