Charlea Grey 

God kan alles doen, daar is niks wat Hy nie kan doen nie. Lukas 1:37, Bybel vir Almal
 
Wanneer laas het jy ’n wonderwerk beleef? As jy in wonderwerke glo en jou oë oopmaak, sal jy baie wonderwerke rondom jou sien.
 
Soms, dink ek, is die probleem dat ons net aan groot goed dink wanneer ons aan wonderwerke dink. Dinge soos die wonderwerke waarvan ons in die Bybel lees. Ja, daardie dinge is inderdaad wonderwerke. Net soos die wonderwerke waarvan ons in Lukas 1 lees – Maria en Elisabet se onwaarskynlike swangerskappe.
 
Dan dink ons dikwels ook aan wonderwerke waar mense groot ongelukke of tragedies oorleef. Ons dink aan mense wat ernstige siektes klop. Of net soos in die Bybel – onwaarskynlike swangerskappe.
 
Ek glo wel ons moenie die klein wonderwerke miskyk nie. Soms is daar te midde die hartseer en tragedie klein wonderwerkies wat eintlik ook erken moet word want dit getuig van God se groot genade en sy hand wat steeds teenwoordig is.
 
Soms is die wonderwerke dinge wat ons as “gewoon” beleef. Soms is daardie wonderwerke dinge soos twee mense wat mekaar ontmoet en liefde vind. Soms is daardie wonderwerk twee ouers wat, ten spyte van ongelooflike uitdagings, by mekaar bly en die moeilike pad saam aanpak. Soms is daardie wonderwerk die regte blyplek op die regte tyd op die regte plek. Of die regte werksgeleentheid net voor jy moed verloor. Soms is daardie wonderwerk ’n goeie idee wat deur harde werk en toewyding in iets groter omskep word. Soms is daardie wonderwerk so eenvoudig soos vrede in jou familie.
 
Ek dink nie wonderwerke is net dinge wat skielik of uit die bloute gebeur nie. Soms lê die wonderwerk juis in die moed om ’n kans te waag, die geduld om te wag vir die regte ding, die deursettingsvermoë wat jou anderkant uitbring, die harde werk en toewyding wat iets kan laat groei. Dis dinge wat ons so maklik as vanselfsprekend en “gewoon” kan aanvaar.
 
Maar daardie wonderwerke moenie misgekyk word nie. Inteendeel, ons moet dit vier en dit met die mense rondom ons deel.
 
Dink ’n bietjie. Watter wonderwerke in jou lewe kyk jy soms mis?
 
Gebed: Baie dankie Here, vir u liefde en genade in my lewe. Help my om die wonderwerke wat so maklik misgekyk word, raak te sien en te vier. Amen.