Imogen Campbell 

Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God. Psalm 146:5, 1983-vertaling
 
In my stiltetyd het ek opnuut besef dat hoop beskaam nie. Inteendeel, ons teksvers bevestig dat as ons ons hoop op die God van Jakob vestig, sal dit met ons goed gaan.
 
Die God van die Bybel, van Jakob en die aartsvaders, het nog altyd bestaan en sal altyd bestaan. Sy Naam wat Hy aan Moses geopenbaar het:"Ek is wat Ek is", is in die teenwoordige tyd. Hy is alomteenwoordig – die God van ewige hoop.
 
Hy was vir die aartsvaders 'n baken van lig, ook vir die twaalf stamme van Israel selfs toe hulle in Egipte swaargekry het. Toe die Lig van die wêreld twee millennia terug na die aarde gekom het, moes Hy ook vir 'n ruk na Egipte vlug toe sy lewe in gevaar was.
 
Hy het teruggekom na sy land en het deur sy twaalf dissipels gewerk. Op grond van hulle getuienis en dié van die profete het Hy sy Kerk gevestig, (Efesiërs 2:20-22) om mense te verenig wat deur geloof nou een in Christus is.
 
Hy is getrou aan sy Woord. Ons kan op Hom staatmaak, ons hoop op Hom vestig en Hom vertrou. Hy is die onsterflike God, die God wat sien, die God wat genees en Hy is die God wat vir ons sonde gesterf het: Jahweh, Immanuel, die groot "Ek is".
 
Gedurende sy verhoor sê Jesus: “Ek is,” het Jesus geantwoord, “en julle sal die Seun van die mens sien waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is, en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel.” (Markus 14:62)
 
Johannes het Jesus se "Ek is"-uitsprake opgeteken: Ek is ... die weg, die waarheid en die lewe; die brood wat lewe gee; die lig vir die wêreld; die ingang vir die skape; die goeie herder; die opstanding en die lewe en die ware wingerdstok.
 
Gedurende hierdie week sal sommiges van ons nadink oor Jesus se woorde aan die kruis, veral die voorlaaste woorde toe Hy gesê het: "Dit is volbring". Hy het na die aarde gekom en 'n volmaakte lewe gelei, elke wet nagekom en sonder sonde gesterf. Hy het gesterf om jou en my te red. Hy het alles gedoen wat Hy beplan het om te doen.
 
Onder geen omstandighede beplan Hy om ons te faal nie. Die God van Abraham, Isak en Jakob is steeds aan die werk, Hy doen wat Hy die beste doen, en dit is om God te wees en alles volgens sy wil te laat gebeur. Hy het 'n uitstekende rekord. Hy faal nooit nie.
 
Gebed: Vader, dankie vir u volkome, onfeilbare Woord. Dankie vir die kruis. Dankie dat U ons gered het van 'n ewigheid sonder U. Amen