Ewald Schmidt www.biblesa.co.za/bible/AFR83/JHN.15

Daar is … 'n tyd om lief te hê, 'n tyd om te haat. Prediker 3:2a,8a 1983-vertaling
 
Haat word uitgewys as een van die vrugte van die sondige natuur in Galasiërs 5:20. Haat vind plaas teenoor mense wat anders as ek is. Dit lei tot geweld, dit lei tot oorlog. Dit vernietig lewens. Haat hoort nie by ons as kinders van die Here nie. As jy haat, is jy self die eerste slagoffer.
 
En tog sê die Prediker daar is 'n tyd om te haat. Hoe verstaan ek dit dan? Ons mag nie mense haat nie. Jesus het die opdrag gegee dat ons selfs ons vyand moet liefhê (Matteus 5: 43-44). 'n “Tyd om te haat” word gereserveer vir die duisternis in hierdie wêreld. Ons haat die kwaad, die bose en onreg in hierdie wêreld. Daardie haat bring ons in beweging om aksie te neem, om met die krag van die Heilige Gees dit wat verkeerd is, aan te pak en te verander.
 
Daar is 'n baie sterker veranderingsagent in hierdie wêreld aan die werk. Dit is die liefde van God. God is liefde, sê 1 Johannes 4:16. Ons lees in Genesis 1:26 dat die Here ons na sy beeld gemaak het. Liefde bring lewe. Deur God se liefde het Hy sy Seun gestuur om ons te verlos (Johannes 3:16).
 
Met die sondeval het die mens so baie van die vermoë om lief te hê, verloor. Ons is van nature lief vir onsself. Dis moeilik om ander lief te hê. Tog is dit waarmee die Here besig is in ons lewe wanneer ons Hom ken. Hy kom herskep ons na die ontwerper spesifikasies van die begin. Liefde word die eerste vrug van die Heilige Gees in ons lewens (Galasiërs 5:22). Dit word ons lewensdoel om te gaan liefhê. Die aand voor die kruis herhaal Jesus sy groot opdrag twee maal: “Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. (Johannes 13:34) en "... julle moet mekaar liefhê soos wat Ek julle liefhet.” (Johannes 15:12) Die liefde van die Here het ons lewens kom verander. Dit bring ons in beweging om van die wêreld 'n beter plek te maak. Liefde bly nie woorde nie, dit kry hande en voete. Dit sien raak wat seer en stukkend is, dit probeer om 'n verskil te maak.
 
Soos Johannes so mooi gesê het: “God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus.” (1 Johannes 4:16b-17)
 
Nou is dit die tyd van die liefde. Wat kan jy vandag met God se liefde doen om iemand anders se lewe beter te maak? Gaan doen dit!
 
Gebed: Here, dankie dat U liefde is, en my na u beeld gemaak het. Here, kom herstel my vermoë om lief te hê deur u Gees. Maak my vol van u liefde, laat my oorloop daarvan tot seën van my naaste. Amen.