Ewald Schmidt 

Daar is … 'n tyd om te skeur, 'n tyd om toe te werk … Prediker 3:2a,7a, 1983-vertaling
 
Ons kan sommer hoor dat hierdie vers na kledingstukke verwys. My ma sou my 'n goeie pak slae gegee het as ek aspris my klere skeur. Wanneer kan daar dan 'n tyd wees om klere te skeur? In die bybelse tye het mense hulle klere geskeur wanneer daar groot hartseer is, met die dood van 'n geliefde, as 'n teken van rou. Hulle het ook hulle klere geskeur wanneer daar godslastering in hulle midde plaasgevind het. Daar was klere geskeur as verootmoediging in tye van nasionale rampe, soos toe Koning Hiskia in Jesaja 37 hoor dat die Assiriërs met 'n reuse weermag op pad was om Juda te verower. Om klere te skeur, het gewys dat daar ernstig fout is. Dit was 'n teken van verootmoediging, waarin die Here se hulp gesoek is. Dit is opgevolg deur gebed. Joël 2:13 gee hierdie perspektief: “Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep.”
 
Ja, daar is tye waarin ons ons harte voor die Here moet skeur.
 
Maar dan wil die Here graag genees. Hy wil heel maak. Daar was na tye van rou en nasionale verootmoediging, ook weer tye van aanmekaar werk wat geskeur was. Esegiël 37 is 'n hoofstuk waarin die Here belowe om dit wat uitmekaar geskeur was, weer terug te bring. Esegiël 37:22 werk met die begrip van dit wat verskeurd was, wat weer bymekaar sal kom: “Ek sal van hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel, en hulle sal een koning hê. Hulle sal nooit weer twee volke wees nie, nooit weer in twee ryke verdeel word nie.”
 
Daar is 'n tyd om verhoudinge te herstel. Daar is 'n tyd wanneer ons klaar gerou is, en weer vreugde mag beleef in ons lewe. Daar is 'n tyd van herstel, wanneer die Here vergewe, wanneer die Here genees. Dan volg gebede van dankbaarheid en lofprysing.
 
Gebed: Here, soms is dit nodig dat ons in verootmoediging voor u troon kom kniel. Soms moet ons ons harte voor U skeur, wanneer ons treur oor die stukkendheid van die wêreld, en ons eie onvermoë om beter te doen. Maar dankie dat U die God is wat genees en heel maak. Dankie dat gebede van verootmoediging op die regte tyd verander in lofprysing en dankgebede. Amen.