Wanneer wag ondraaglik voel - 11 Mei 2020

Xanthe Hancox

Ek wag op die HERE; my siel wag, en ek hoop op sy woord. My siel wag op die Here meer as wagters op die môre, wagters op die môre.  Psalm 130:5-6 (1933/1953-verrtaling)

Daar is 'n gesegde wat lui dat 'n mens nooit vir geduld moet bid nie, want jy mag dalk nie hou van die manier hoe God jou leer nie. Baie van ons is die meeste van die tyd nie baie geduldig wanneer ons moet wag vir klein goedjies om te gebeur nie, of dit nou die bediening van kos of die verkeerslig is wat moet verander. Dit is ook geensins makliker in hierdie COVID-wêreld waar baie van ons wag vir die regering om te sê wanneer ons weer werk toe kan gaan, kerk kan bywoon of ons geliefdes kan besoek.

Ons word nie vertel watter moeilikhede die psalmdigter beleef nie, maar ons hoor hom om genade smeek. Wanneer hy sê: "As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?" (v.3), bely hy dat hy geen groter rede as enige ander sondaar het om te verwag dat God hom moet help nie. Tog, in sy moeilikheid wag hy op die Here, "meer as wagters op die môre, wagters op die môre."

Ek hou baie van hierdie psalm as 'n gedig. Die herhaling in die laaste reël van vers 6, lees soos 'n lied en maak 'n mens op 'n mooi manier bewus van die psalmdigter se erns en sy fokus.

Wanneer ons wag op nuus en daar is 'n moontlikheid van slegte nuus, kruip angs dikwels in—en dit kan voel of die situasie ondraaglik is. Soos die psalmdigter moet ons ons oë gerig hou op God, die bron van hoop vir hierdie lewe en tot in ewigheid. Daar bestaan geen omstandighede waarin die Here ons nie sal help nie.

Gebed: Liewe Here, ons bid versigtig vir geduld om die irritasies van die lewe te kan hanteer, of dit nou deur klein of groot dinge veroorsaak word, lewensveranderend of vreesaanjaend is. Dankie vir u oneindige genade. Skenk aan ons 'n vaste hoop in u Woord. Amen

Go to top