Louise Gevers

As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal.  Psalm 34:18-20

Elkeen van ons ondervind soms tye waar alles verkeerd gaan en dit moeilik is om nie moedeloos en wanhopig te word nie. Petrus het ook daardie punt bereik. Die vorige drie jaar was hy deel van 'n lewendige span saam met Jesus, en hy het dinge gesien en beleef wat sy wildste drome oortref het. En nou was Jesus weg.

Maar dit was slegs een deel daarvan; waarmee hy eintlik geworstel het was homself en die herinneringe wat by hom gespook het. "Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.”  En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik  . (Lukas 22:61-62) Hy het dikwels dinge verkeerd gekry, maar hierdie was die ergste; Hy het voorheen gesê dat hy bereid is om vir Jesus te sterf (Johannes 13:37) maar nou het hy Hom verloën, juis toe Hy 'n vriend die nodigste gehad het.
 
Dit is baie moeilik om met 'n skuldgevoel te leef. Dit is veel erger as die persoon wat verontreg is nie meer hier is sodat ons hulle kan vra om ons te vergewe en die saak kan uitpraat nie. Vergifnis is egter in God gesetel – selfs om onsself te vergewe – en Hy is in staat om ons te red. Slegs God kan hierdie angs genees en vrede gee. Petrus het Jesus se woorde oor vergifnis aan die kruis gehoor en hy het Hom goed genoeg geken om te weet dat hy (Petrus) ingesluit was, maar hy het gerusstelling nodig gehad en Jesus het dit verstaan.

Jesus het aan Petrus en die ander dissipels verskyn daar waar hulle weer visgevang het. Die hele nag het hulle niks gevang nie; maar nadat Hy vir hulle gesê het om die nette aan die ander kant te laat sak, het Hy wonderbaarlik vir hulle 'n groot klomp vis laat vang en ontbyt op die strand gegee. "Hulle het geweet dat dit die Here is." (Johannes 21:12) Op die strand het Jesus met Petrus 'n gesprek gevoer wat lewensveranderend was.

Dit was eenvoudig, maar betekenisvol. Drie keer het Petrus ontken dat Hy Jesus ken en drie keer het Jesus vir Petrus die geleentheid gegee om sy liefde vir Hom te bely. Die probleem was in Petrus, nie by Jesus nie. Jesus het geweet hoe lief Petrus Hom het, maar Petrus moes Hom in die oë kyk en sy liefde bely sodat Jesus sy pynvolle herinneringe vir ewig kon verwyder. Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei." (Johannes 21:17) Jesus het Petrus volkome herstel deur die verantwoordelikheid om na sy kinders te kyk, aan hom toe te vertrou, elke deel van sy kudde, jonk en oud.

Wanneer ons Jesus liefhet, kom Hy ook in ons uur van nood na ons toe. Soos in die geval van Petrus, red Hy ons en gee ons krag om Hom te dien. Hy herstel ons.

Gebed: Vader, deur Jesus het ons hoop. U hoor ons en red ons van die skuld en skaamte wat ons mismoedig en depressief laat voel en ons van volkome geluk beroof. Dankie dat U ons red. Amen