Ben Fourie

“Prys die Seun van Dawid. Loof Hom wat in die Naam van die Here kom. Prys Hom in die hoogste hemel.” Matteus 21:9

Voor sy kruisiging en dood ry Jesus in ’n triomftog Jerusalem binne. Die skare gooi hulle klere en palmtakke op die grond neer en sing ‘n baie bekende lied. Die lied is Psalm 118 en elke Jood het dit geken, want dit was een van die liedere wat gesing is by veral die huttefees. Die psalm is die laaste van ses psalms (113-118) wat veral in die tyd na die terugkeer uit die ballingskap tydens die paasfees, pinksterfees en huttefees gesing is. Dit sou ook in die tyd van Jesus ’n belangrike rol gespeel het by feeste en was met die paasfees net om die draai waarskynlik reeds op die lippe van die feesvierende menigte wat hom langs die pad begroet het.

Psalm 118 handel oor die verlossing uit die hand van ‘n vyand en beskryf die triomftog van die seëvierende leër wat agter die leëraanvoerder of koning die stad binnekom. Dit is duidelik dat die skrywers van die Nuwe Testament hierdie psalm goed geken het en as op Jesus van toepassing gesien het, want op verskillende plekke haal hulle ook vers 22 aan: “die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.”

Was die skare nie dalk verkeerd om juis hierdie triomf psalm te sing nie? Voor Jesus het immers géseling, bespotting, kruisiging, dood en ‘n klipgraf gewag. Sou ’n treurlied waarvan daar talle in die Psalms is nie meer gepas gewees het nie? Nee! Want die skare sien eintlik profeties verby die dood en graf tot by die stil Sondagoggend toe die engel vir die vroue gesê het: “Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek.” Daar is dus geen twyfel dat die feesgangers reg is as hulle Jesus sien as die Seun van Dawid, die verwagte Messias, die een wat in die Naam van God gekom het om dood en graf te oorwin. Seëvierend trek Hy vandag steeds triomfantelik voor ons, sy leër van verlostes uit om sy oorwinning teenoor die hele wêreld te bevestig.

Gebed: Dankie dat ek ook een van die feesvierende menigte kan wees wat weet dat Jesus vir my die dood oorwin het. Amen