Louise Gevers

Prys die Here! Prys God in sy heiligdom, prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf! Prys Hom oor sy kragtige dade, prys Hom in sy magtige grootheid! Prys Hom met die ramshoring, prys Hom met harp en lier! Prys Hom met tamboeryn en koordanse, prys Hom met snaarinstrumente en fluite! Prys Hom met simbale, prys hom met galmende simbale! Laat alles wat asem haal, die Here prys! Prys die Here!  Psalm150:1-6

Wat 'n wonderlike verrassing wanneer 'n mens besef dat hierdie ses, kort teksverse uit Psalm 150 eintlik 'n feesviering kompleet met 'n vol orkes, dans en sang, is. Dit is 'n volledige feesviering en is baie geskik om 'n boek, propvol van God se wonderlike betrokkenheid in die komplekse lewe van die mens, mee af te sluit. Ons God is nie 'n mooiweersgod nie.

Hoe leeg sou ons lewens nie gewees het as daar niks was om te vier nie. Gedurende Mei gaan ons elke dag fokus op iets om te vier. "Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag." (1 Tessalonisense 5:16-18). God maak seker dat daar altyd iets is om ons lewens te verryk, beide in die goeie, sowel as in die moeilike tye wat ons ondervind.

Feesvieringe het met seëninge te make; dit sluit in herdenkings, troues en dinge wat ons bereik, maar daar is egter ook 'n eenvoudiger kant. Dit het te make met daardie oomblik wanneer ons tot stilstand kom om elke spesiale ding wat ons in ons lewens ontvang, te erken en te waardeer. Dit is om op te hou om die liefde, troos, ons daaglikse behoeftes, vreugdes en hartseer wat ons ontvang, as vanselfsprekend te aanvaar en eerder daarvoor dankie te sê. Dit bring geluk en gee rede om elke dag te vier.

Elke dag het ons 'n keuse: om dankbaar te wees vir elke ding wat waarde tot ons lewens voeg en dit te vier, of om dit te ignoreer en nie die vervulling wat dit bring, te geniet nie. Dankbaarheid vul ons harte. "Dit is die seën van die Here wat rykdom bring; jou geswoeg laat dit nie meer word nie."(Spreuke 10:22) Om te erken dat die Here vir ons omgee, bring hoop; maar wanneer ons ons seëninge ignoreer voel ons soms depressief en verwerp, maar ons weet nie hoekom nie. 'n Eerlike ontleding om vas te stel hoe sake staan, help dikwels.

 

Ons het huise, familie, vriende en werk; en, voeg daarby dat God aan ons intelligensie en ongelooflike talente skenk, en wysheid uit sy Woord om ons lewens en sake te bestuur. In Spreuke 3:5-6 lees ons: "Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop." Wanneer ons erken dat ons seëninge van God kom, ondervind 'n mens 'n diepe blydskap en vervulling. Indien jy dit nie doen nie, is al jou prag en praal so leeg soos die beloftes van 'n politikus.

Het jy vanoggend die son sien opkom? Het jy die voëltjies teen dagbreek ten spyte van koue en reën hoor sing? Het jy aan die drukkies wat jou kinders gee gedink, en so 'n warm gevoel in jou hart gekry? Het jou man se gesing onder die stort jou bly gemaak? Het ontbyt jou maag bevredig? Het jy dit alles gevier?

Gebed: Liefdevolle Vader, dankie vir alles wat U my gee sodat ek elke dag die lewe kan vier. Help my om op die goeie en slegte dae tyd te neem om my seëning te tel en U daarvoor te dank en loof. Amen