Hennie Symington

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Matteus 11:28

In hierdie Paastyd, neem gerus ʼn paar oomblikke of meer om na te dink oor wat Christus se sterwe en opstanding vir jou beteken. Dikwels voel mens vermoeid en belas en sien geen uitweg in die eenrigtingstraat waarin jy jou bevind nie.

Gaan na jou binnekamer (letterlik en figuurlik) en rig jou gedagtes, op die plek waar jy God in jou binneste ontmoet. Vra die Heilige Gees om jou by staan in gebed. Wanneer jy rustig is, stel jou voor:  ʼn Verseëlde grafkelder met ʼn grafsteen wat die uitgang versper. Jy is in ‘n doodskleed toegerol en is nie in staat om in die stikdonker jou weg te vind na die uitgang om die steen weg te rol nie. Jy is desperaat om uit die graftombe te ontsnap. Later raak jy rustig en laat die Heilige Gees toe om jou bewus te maak van wat hierdie private graftombe vir jou oor jou eie hart en siel wil sê. Stel jou voor Christus verwyder die lykskleed waarin jy toegerol is. Skielik is jy vry van die emosies, gedagtes en sondes wat jou vir so lank in hulle mag gehad het. Beweeg jou ledemate en ervaar die vryheid wat jou in staat stel om te beweeg.

Volg Christus deur die tonnel tot waar Hy die klip wegrol en jy vry kan uitstap met Christus as die lig wat vir jou die pad uit die graftombe verlig. Deur Christus se dood is ons bevry van die bande van die dood en die klippe wat ons siel belas.

Gebed: Here, ons is vermoei en belas met soveel dinge wat ons siel doodsmoor. U nooi ons uit om ons laste neer te lê en rus te hê vir ons gemoed. Amen