Neville Turley

Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God.  Romeine 6:9-10

Die priesterhoofde en die Fariseërs was in 'n woordewisseling oor Jesus betrokke en dit was op pad om in fisiese geweld te ontaard. Hulle het Hom gehaat en was bang vir Hom.

Hulle het sy wonderwerke ontken en dit as satanies afgemaak. Toe sy honger dissipels op die Sabbat koringare gepluk en in die lande opgetel het, het hulle Jesus daarvan beskuldig dat Hy die Sabbatswette verbreek. Hulle was woedend toe Hy 'n man met 'n verlamde hand op 'n Sondag in die sinagoge in Kapernaum genees het. Toe die Fariseërs hoor dat Jesus Lasarus uit die dood opgewek het, was hulle oortuig dat Hy kop in een mus met die duiwel was om hulle gesag te ondermyn. "Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens. As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet." (Johannes 11:47-48)

Die Joodse owerhede het begin beplan om Hom dood te maak.

Dit was teen hierdie agtergrond en om Hom in 'n strik te probeer vang, dat die Fariseërs Jesus gevra het om vir hulle 'n wonderwerk te doen. Jesus het geweier. "… en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona." (Matteus 12:39)

Hy het toe geprofeteer dat soos Jona in die maag van 'n groot vis was, so sal Hy die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees. Maar dan sal daar iets baie groter gebeur!

Jona is lewendig deur die vis ingesluk en het regdeur sy beproewing geleef. Jesus het aan die kruis gesterf. Toe Pilatus bevestiging van sy dood ontvang het, het hy Jesus se lewelose liggaam in die sorg van Josef van Arimatea geplaas. Josef het die liggaam vir die graf voorberei en Hom begrawe.

Jesus se profesie dat iets baie groter sal gebeur, is op die derde dag na sy dood vervul. Daardie oggend het Jesus uit die dood opgestaan. Die dood is oorwin!

Hy leef, en omdat Hy leef, kan ons ook in die krag van die opgestane Christus leef, nou en tot in ewigheid. Hoe wonderlik en groot is die God wat ons dien.

Gebed: Hemelse Vader, Here van die lewe, ons buig voor U in lof en aanbidding. Gee dat die Heilige Gees ons sal lei om 'n lewe te leef wat deur u Seun, Jesus, vir U aanvaarbaar is.  Amen