Charlea Grey 

Jy kan altyd weet dat 'n vriend lief sal wees vir jou en dat 'n broer daar is om te help wanneer dit sleg gaan met jou. Spreuke 17:17, Bybel vir Almal
 
Familie. "Can’t live with them, can’t live without them." Of hoe?
 
Familie is vir baie mense ’n ingewikkelde onderwerp. Jy kan nie jou familie kies nie, so jy hou dalk nie noodwendig ewe veel van ál jou familielede nie. En ek praat nou van die groter prentjie – aangetroude familie, bloedfamilie, sommer die hele lot.
 
Dis seker natuurlik. Almal kan nie van almal hou nie, mense het verskillende belangstellings en prioriteite en menings oor dinge, so almal gaan nie altyd ewe goed oor die weg kom nie. Tog hunker ons dikwels na familie omdat dit ons laat voel of ons iewers inpas. Familie kan ons laat voel ons is deel van ’n groter prentjie. Dit is goed om te weet waar jy vandaan kom en lekker om gedeelde herinneringe te hê – dinge wat net die ander mense in jou familie ken en verstaan.
 
Ek glo dis daarom ’n reusevoorreg as jy familie het waarvan jy hou en familie wat betrokke is in jou lewe. Want familie kan ondersteuning en begrip bied wanneer niemand anders regtig sal verstaan nie. Familie kan ’n veilige plek van liefde en opregte belangstelling en vreugde wees.
 
Ek glo dít is God se bedoeling met familie – ’n hawe sodat jy nie alleen deur die lewe hoef te gaan nie, want gedeelde vreugde is mos dubbele vreugde en ’n las is darem baie ligter as nog iemand help dra. En in baie gevalle is dit juis iemand in jou familie wat eerste bereid is om te help as die nood druk.
 
Dis wonderlik as jy binne-in jou familie, ook ware vriende kan vind. Indien jy só gelukkig is – koester dit.
 
Kyk of jy vandag of iewers die week tyd kan vind om uit te reik na ’n familielid. Goeie verhoudinge met familie is nie ’n gegewe nie en ons moet dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit is ook een van daai dinge in die lewe wat net soos enige ander verhouding, tyd en moeite verg. Dis ’n plantjie wat water en lig moet kry om te groei en te ontwikkel en diep wortel te skiet.
 
Gebed: Here, help my om my familie te koester en tyd te maak vir die mense in my familie wat my liefhet en vir my omgee. Help my ook om te onthou dat dit ’n voorreg is om familie te hê en dat dit nie iets is wat ek net as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Amen.