Charlea Grey 

Jy moet met jou hele hart glo dat God jou altyd sal help, jy moenie dink dat jy self weet wat om te doen nie. Jy moet vir God vra om jou te lei in alles wat jy doen, dan sal Hy jou altyd lei. Spreuke 3:5-6, Bybel vir Almal
 
Ek staan week na week verstom as ek die ontwikkeling van hierdie kleintjie in ons huis aanskou.
 
Regtig, dit is absoluut verbysterend om te sien hoe sy nuwe dinge leer, hoe sy ons na-aap en hoe sy dan eindelik met ’n sterk wil en selfvertroue dinge self doen.
 
Sy het ’n babapop vir Kersfees gekry by haar een oupa en sedertdien is sy verknog aan die pop. Sy versorg die pop heeltyd – voer die pop, tik haar boudjies om haar aan die slaap te maak, sus haar en soen haar gedurig op haar voorkop. Maar soms val die pop van die stoel af as hulle twee so saam-saam sit en eet, want plek is beperk. Soms kry sy nie die fopspeen of bababottel lekker in die pop se mondjie nie en dan gil sy gefrustreerd. Of soms moet die arme pop se klere uit en soms moet sy ’n ander uitrusting kry.
 
En raai wie moet dan help en planne maak? Mamma of pappa. (Ek het wel ’n stokkie daarvoor gesteek toe sy die pop heeltemal kaal kerk toe wou vat.)
 
Dis die een ding wat ek die afgelope twee jaar, keer op keer geleer het. Soms moet jy om hulp vra. Ons kan nie alles alleen doen nie. Jy gaan nie alles altyd op jou eie regkry nie. Daar gaan tye wees wat jy moeg en moedeloos en gefrustreerd en heeltemal oorweldig gaan voel. En dan moet jy om hulp kan vra. Jy mag. Dit maak jou nie ’n swakkeling nie.
 
Maar onthou ook – God kan soms hulp stuur deur mense en maniere wat jy nie verwag nie. En soms is die groter uitdaging, nie om te vra nie, maar om hulp te aanvaar.
 
Gebed: Liewe Here, ek kan nie alles in hierdie lewe op my eie doen nie. Ek het met so baie dinge hulp nodig. Help my asseblief, Vader. En help my om die hulp wat my kant toe kom, te aanvaar en te waardeer. Amen.