Fanie Richter 

“Nader tot God en Hy sal tot julle nader.Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” Jakobus 4:8,10, 1983-vertaling
 
Met watter motief wil jy vandag tot God nader? ’n Behoefte dat Hy jou goedgesind moet wees en seën? Of omdat jy besef dat dinge in jou lewe nie reg is teenoor Hom en ander mense nie? Of om gemeenskap (fellowship) met Hom te hê?
 
Jakobus 4:5 wys vir ons op watter manier ons tot Hom moet nader – dat Hy “die gees wat Hy in ons laat woon”, maar wat ons so maklik verkeerd gebruik en van Hom af wegdwaal, “heeltemal vir Homself wil hê.” Want dis die aandrywende krag wat Hy in ons geskep het waarin Hy sy Gees en gesindheid wil vestig.
 
Wat vul jou gees en maak dit vir jou moeilik om tot Hom te nader? Wees gerus nederig eerlik voor Hom, lê dit bloot en sê dat dit jou ontstel en dat jy jammer is en vra sy raad en hulp.
 
Hoe kan ons Hom die toewyding gee wat hy eis? Jakobus vertel in hoofstuk 4 vers 6 dat as God ’n groot eis stel, Hy nog groter genade gee om dit te vervul. Jou terugkeer is vir Hom so kosbaar dat Jesus Christus die hoogste prys daarvoor aan die kruis betaal het. Kyk hoe mooi beskryf Hosea 2:13-22 God se liefdesgesindheid en besorgdheid oor sy mense, wat ook afgedwaal het, maar wie Hy só graag weer wil nadertrek en aan Hom wil verbind.
 
Dis hoe God oor jou voel! Kom, soos in Jakobus 4:10, en Hy sal jou nadertrek – Hy wil in ons bly, heers en skeppend wees en ons help om ons lewensdoel te vervul (Johannes 15:4-5)!
 
“Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang.”(Hebreërs 4:16)
 
Gebed: Vader God, kom neem asseblief beheer van my gees sodat dit weer heeltemal U s’n sal wees en die vrug voortbring wat U, my medemense en ook myself sal bly maak. Ek bid dit, en wil dit uitleef in die Naam van Jesus Christus. Amen